duskant sutherland


Om te val
Junie 15, 2008, 7:48 vm
Filed under: Gedagtes

Ek sit vanoggend en staar by die vliegtuig se ruit uit, die mango-oranje motore skuins onder my, die Karoo se oneindigheid as palet daar ver onder. Sit ek toe nou sommer so en dink en wonder en onthou. Na ‘n rukkie sien ek ‘n dun straaltjie rook by die motore uitkom. Dit raak dikker en swarter. Skielik is daar vlamme, die vliegtuig kantel na links en begin ruk. Oral is passasiers vreesbevange – kan dit wees? Ek sit verstar na die motore en kyk. Na ‘n rukkie begin stukkies metaal soos vlieënde swaeltjies van die motore afval grond toe. Nou duik die Boeing 737-800 meer as 45 grade na links. Die tannie langs my se koffie kantel om op my been maar ek voel nie die brand nie, want ek is bang. Vir die eerste keer lig die loods ons in oor wat aangaan: ”ons het ‘n motore verloor, dames en here”. “No sh*t…” dink ek by myself. Hy vra dat ons kalm sal bly en sê dat ons na ‘n vliegveld buite Beaufort-Wes oppad is. “Beaufort sien ons nie vandag nie” dink ek fatalisties. Die vliegtuig wieg nou heen en weer en skud verskriklik. Dan sien ek die skrikwekkendste gesig wat ek al ooit aanskou het. Waar daar sekondes gelede nog ‘n brandende motore was, is nou slegs ‘n rokende hegtingspunt. Hey, dink ek by myself, as daardie Nationwide vlug met slegs een motore kon land sal ons dit seker ook kan doen! Asof die loods my gedagtes lees, verseker hy ons deur ‘n krakerige omroepstelselstem dat alles onder beheer blyk te wees, en dat ons oor min of meer 10 minute in Beaufort Wes sal land. Binne die vliegtuig is alles doodstil. Daar is ‘n premature verligting onder die bleek passasiers. Ek kyk weer na die vlerk wat nou vir my soos die veerlose vlerk van ‘n voël lyk. My hart klop in my keel…maar my asemhaling is rustiger. Dan gebeur dit. ‘n Klein vlammetjie verskyn waar die motore aan die vliegtuig geheg was. Dit groei vinnig, baie vinnig.

Skielik is daar ‘n vuurbol wat my verblind en my gesig warm maak.

Die res is flitse in my kop…die vliegtuig kantel geweldadig, die ligte gaan af, mense gil, die vlerk verdwyn, die vliegtuig tol na onder, dis soos ‘n rollercoaster, net baie vinniger. Mense gil. ‘n Swaar rugsak val op my. Ek raak naar. Ek maak my oë toe. Dis swart. Daar is ‘n slag. Dit bly swart.

Gelukkig is alles baie vinnig oor.

Dit is vinnig oor omdat ek juis toe ek vanoggend by OR Tambo opgeklim het moes badkamer toe gaan maar deur die tyd gevang is. Nou ruk die natuurroep my uit hierdie vreesaanjaende droom…
“Jy kyk the veel Air Crash Investigation” op Discovery, dink ek sommer dadelik by myself.

Terwyl ek so in die noute van die vliegtuigtoilet staan en ontspan soos mens maar net kan ontspan wanneer die nood groot was, herleef ek weer die super-realistiese droom wat ek nounet daar in my sitplek gehad het.

So-iets voel so onwerklik en onmoontlik maar dit is wraggies moontlik en indien dit gebeur, baie werklik.
Ek wonder hoe dit voel om jou laaste oomblikke op aarde op hierdie manier te slyt. Ek wonder of jy regtig in ‘n oogwink ‘n précis van jou lewe sien…maar met elke klein detail. Ek wonder of jy pyn voel, of dit seer is. Ek wonder of die dood vinnig kom, en of jy letterlik tot op die laaste ‘n kognitiewe bewuste het.

Ek wonder of jy die slag hoor…