duskant sutherland


Gesoek: Lina Spies se agenda
September 23, 2008, 11:18 vm
Filed under: Gedagtes

Gaan lees gerus hierdie insiggewende inskrywing daar by Johan Swarts se werf. Ek dink dit spreek boekdele oor die onafwendbare “agenda” wat ter enige tyd retoriek en kognisie rangeer.

Om by Johan aan te sluit…wat is Lina Spies se agenda met haar repeterende Buchan-tirades?



Gesoek: Lina Spies se verlosser
September 22, 2008, 8:56 vm
Filed under: Geite

” …the Jester sang for the King and Queen
In a coat he borrowed from James Dean
In a voice that came from you and me…”
American Pie – Don McLean

En hier gaan ons alweer…
“Oom” Angus Buchan (ek hou nie van die bandwagon “ge-oomery” nie, ek “oom” net mense wat ek ken…) doen sy ding en ontstel die ontsteldes alweer. Veral sommige, soos onse geëmansipeerde Volksmoeder, Lina Spies. Mensig, maar die “Oom” het haar nouweer snotbel en traan laat stort. In ‘n bylaag tot die Griffel van die Volk stort sy haar hart uit en verklaar onomwonde dat Oom Angus haar “ontstel”.
Sy skryf onder andere:

“Ek ervaar die hele verskynsel van die ontwortelde Skotse Zimbabwiese boer wat sy cowboy-voorkoms – spykerbroek en wawielhoed – kennelik kultiveer, as intens ontstellend.”
en
“Wat my die diepste ontstel van Buchan se boodskappe is dat hulle so deur en deur man-georiënteerd en seksisties is en dít binne ’n nuwe demokrasie wat juis daarna strewe om mure tussen mense af te breek.”
en
“Ek neem aan Buchan het net seuns; hy het, anders as die omstrede biskop Spong, kennelik nie “drie geëmansipeerde dogters” nie. Ek is begenadig deurdat ek self uit presies so ’n geïnspireerde vroulike gesin kom.”
en
“‘Oom Angus’ ken die aanspreekvorm ‘Boet’ – darem een van sy vyf Afrikaanse woorde – en ek vra my af of daar darem ’n “Sus” in sy swymelende skare is, wat dalk iets anders wil word as ’n gedweë, onderworpe huisvroutjie?”

Ah hemel tog, of sal ek uitroep soos ‘n goeie vrind van my: VIR VARKSTEAKS!
As daar nou een ding is wat my ontsettend irriteer is dit mense wat oorsensitief is en maklik “ontstel” word. En dis duidelik dat die “ontwortelde Skot” nie genade het met Spies se konstitusie nie (terloops, waddehel is ‘n spykerbroek?).  Sy het dit weereens eens dat Buchan se boodskappe seksisties en man-gerig is. Ek vermoed dat dit spruit uit Buchan se geïmpliseerde “kaalvoet-vrou-voor-die-stoof” teologie…o ja, en die feit dat hy die heeltyd die woord “boet” gebruik.

Nou kyk, ek was al by Buchan se samekomste, en nog nooit het ek gehoor dat hy die woord “submit” of “submissive” of, for that matter, enige verwante woorde gebruik of predik nie. Wat hy wel beklemtoon is ‘n terugkeer na Bybelse waardes en norme – ook vir die gesin. Op ‘n praktiese vlak is dit eenvoudig…hê respek vir mekaar en koester mekaar. Dis op ‘n dieper geestelike vlak waar verwarring ontstaan…Buchan doen ‘n beroep op die manne om weer die Geestelike leiers van hulle huishoudings te word – ‘n begrip wat telkens in die Bybel bespreek word. En dis nou net hier, vermoed ek, waar die ore van stryders die woord “man” en “leier” in dieselfde sin hoor en sumier toeslaan. Want hoe kan ‘n man in die 21e eeu leiding oor sy gesin durf neem!

Ek glimlag lekker oor die “boet” verwysing en ek dink Spies laat haar onderrok so bietjie uithang wanneer sy, kompleet soos ‘n tjankbalie-kind, die ietwat patetiese houding van tenagekomde inneem. Haar ietwat irrelevante relaas is soos om te sê dat iemand wat uit gewoonte die aanspreekvorm “my maat” gebruik, diskrimineer teen almal wat nie vriende met hom/haar is nie. Daarby sou ‘n mens die Stem van die Volk dan seker kon gaan verklae omdat een van hulle aanbieders, Amore Bekker op haar middagprogram Tjailatyd telkens en uitsluitlik die aanspreekvorm “suster” gebruik. Belaglik.

Dit wil vir my voorkom of daar ‘n inhirente minderwaardigheid manifesteer in Lina Spies se retoriek en dit voel so half vir my of sy ‘n monumentale tjip op haar skouer het. Fair enough. Maar ek weet waarlik nie waarom die persepsie bestaan dat Angus Buchan die teenpool van hierdie sentiment verkondig nie.

(Ek vind dit wel komies dat ‘n aartappelboer van Natal, of wag, ekskuus, ‘n “ontwortelde Skotse Zimbabwiër” ‘n geëmanispeerde vrou so kan ontstel.)



Koos Kombuis sê…
September 17, 2008, 8:52 vm
Filed under: Grappe

skertsend dat hy onlangse uitlatings gemaak het omdat hy jaloers is op Angus Buchan se hoed. En omdat Buchan die enigste man is wat Koos ken wat dink hy kan sy eie vrou regeer.

Lekker smaail ek nou.

Ai Koos…



Grootvoete (I) – “Die Ongelooflike 7”
September 16, 2008, 1:10 nm
Filed under: Goeters

Olifante fassineer my geweldig en nadat ek ‘n paar naweke gelede weer gaan kuier het by die Olifantmuseum in die Letaba-ruskamp van die Krugerwildtuin het die wonder van die alombekende “Ongelooflike 7” van die Wildtuin my weereens aangegryp.

Sommer so vir interessantheid ‘n dokumentêre inskrywing oor hierdie fassinerende diere.

Dzombo (c.1935–1983)

Beweegarea: Die area rondom die Tsendze, Letaba en Shingwedziriviere.
Spesifieke Kenmerke: Dzombo se tande is klassiek van Kruger-olifante; na binne gebuig en wys vorentoe na bo.
Oorsaak van Dood: Deur wildjagters doodgeskiet. 

Tand – Links: lengte 255 cm, massa 56.8 kg, omtrek by lip 50 cm
Tand – Regs: lengte 237 cm, massa 56.8 kg, omtrek by lip 51 cm

João (c.1939–c.2000)

Beweegarea: Rondom die  Shingwedzirivier.
Spesifieke Kenmerke: Min is bekend oor hierdie dier omdat sy oorskot nooit gevind is nie, alhoewel sy tande tydens ‘n roetine-ondersoek gemeet is waartydens die olifant verdoof is.
Oorsaak van Dood: Onbekend

Tand – Links: lengte 271 cm, massa 70 kg, omtrek by lip 51 cm
Tand – Regs: lengte 250 cm, massa 60 kg, omtrek by lip 51 cm

Kambaku (c.1930-1985)

Beweegarea: Hierdie dier het in ‘n reuse area tussen die Timbavati en Krokodilbrug-areas beweeg .
Spesifieke Kenmerke: Sy tande was byna identies en hy het ook kenmerkede merke op sy slurg gehad.
Interessante Feit: Kambaku was ‘n geweldige “sosiale” olifant en is gereeld deur besoekers gesien en gefotografeer.
Oorsaak van Dood: Die dier is deur ‘n wildbewaarder geskiet nadat dit gekwes is deur boere oorkant die Krokodilrivier. 

Tand – Links: lengte 259 cm, massa 63.2 kg, omtrek by lip 51 cm
Tand – Regs:lengte 265 cm, massa 64 kg, omtrek by lip 52 cm

Mafunyane (c.1926-1983)

Beweegarea: Die bolope van die Shingwedzirivier.
Spesifieke Kenmerke: Mafunyane se tande was taamlik reguit met erg verweerde punte, die gevolg van jare se sleep in die grond a.g.v die ivoor se vorm en gewig. Die dier het ook ‘n groterige gat in sy voorkop gehad wat moontlik deur die tand van ‘n ander olifant veroorsaak is.
Interessante Feit: Hierdie olifant was geweldig sku en glo baie agressief en temperamenteel. Hy het omtrent nooit naby paaie en kampe gekom nie, en is sodoende deur net ‘n handvol mense waargeneem.
Oorsaak van Dood: Natuurlike oorsake.

Albei tande: lengte 251 cm, massa 55.1 kg, omtrek by lip 48 cm

Ndlulamithi (c.1927–1985)

Beweegarea:‘n Groot area rondom die bolope van die Shingwedzirivier, vanaf Byashishi tot by die Pongholrivier.
Spesifieke Kenmerke: Ndlulamithi se tande was kenmerkend gekrul en gebuig. Dit was ook die grootste van die Ongelooflike 7.
Oorsaak van Dood: Natuurlike oorsake.

Tand – Links: lengte 287 cm, massa 64.6 kg, omtrek by lip 48.5 cm
Tand – Regs: lengte 273 cm, massa 57.2 kg, omtrek by lip 48 cm

Shingwedzi (c.1934-1981)

Beweegarea: Rondom die Shingwedzirivier, tussen die Nkokodzi en Chugamila-heuwels.
Spesifieke Kenmerke: Shingwedzi se ivoor is ‘n goeie voorbeeld van “meester” en “slaaf” tandgebruik waar een tand meestal gebruik is en die ander nie.
Interessante Feit: Hierdie olifant was ‘n saggeaarde rustige dier wat geweldig  verdraagsaam teenoor mense was. Dit het hom ‘n baie geliefde olifant gemaak.
Oorsaak van Dood: Natuurlike Oorsake

Tand – Links: length 264 cm, mass 58.1 kg, omtrek by lip48 cm
Tand – Regs:length 207 cm, mass 47.2 kg

Shawu (c.1926-1986)

Beweegarea: ‘n Groot area in die Mopanieveld tussen die Letaba en Shingwedziriviere.
Spesifieke Kenmerke: Shawu se tande is die langste wat ooit in Suid-Afrika gedokumenteer is.
Interessante Feit: Hierdie dier is in brons verewig deur die beeldhouer Danie de Jager. Die kunswerk staan voor die Lost City Paleis-kompleks in Noordwes.
Oorsaak van Dood: Natuurlike Oorsake

Tand – Links: lengte 317 cm, massa 52.6 kg, omtrek by lip 45 cm
Tand – Regs: lengte 305 cm, massa 50.8 kg, omtrek by lip 45 cm

Bronverwysing: http://www.sanparks.org/



Eerste Liefde
September 13, 2008, 2:19 nm
Filed under: Gedigte

Ons is gesoute reisigers
Deur dop en lied, deur klank en vers
Ons is ballings uit `n paradys
Orals bekend, maar nêrens tuis.
Agter elke grens `n vreemde taal
In elke stad sy katedraal
Maar waar jy ook al sing of vra
Jou toekoms bly in Afrika

Ik ben onthecht en statenloos
Geen vlag, geen grens die ik geloof
Het noorden kwijt, het westen moe
Zo ging ik naar het zuiden toe
Geen vaderland, geen moedertaal
Geen binnenstad, geen kathedraal
Nu sta ik op het Bloubergstrand
Maar mijn hart ligt in het avondland

Hoe lank moet jy nog aanhou soek
Deur kaart of Bybel, gids of boek?
By watter herberg teen die wind,
In watter stal jou heiland vind?
Onder watter ster of noorderlig
Bly ons strompel, blind en sonder sig.
Slegs die Suiderkruis wag lankal daar
Ons toekoms is in Afrika

Ik droom kastelen langs de Rijn
In de de eeuwen die vervlogen zijn
Het continent van ijdelheid
Waar elke weg naar Rome leidt
Ik ben voorbij de Swartbergpas
De hel was mooier dan ik dacht
Nu sta ik hier aan deze kant
Maar mijn hart ligt in het avondland

As die nag finaal sy mantel gooi,
As die son verdoof van wit tot rooi,
As die stede stil word, mense bang,
In die woude niks meer voëlgesang.
Sal ons wat weet, ons voete wend
Terug na die donker kontinent.
Die laaste lente volg weldra,
Maar ons toekoms wag in Afrika

Als ik ooit alles achterlaat
Mijn taal, mijn stad, mijn huis en haard
Dan is er nog een deel van mij
Dat in het noorden achterblijft
Al heb ik hier het leven lief
Al is mijn oude wereld ziek
Zelfingenomen, arrogant
Toch ligt mijn hart in het avondland
Toch ligt mijn hart in het avondland

Want gister was ons kinders daar
Nou reis ons weer saam na Afrika

Al weet ik dat het vuur hier brand
Toch ligt mijn hart in het avondland

Stef Bos & Koos Kombuis



Die skoolsuster met die koue hande…
September 12, 2008, 10:32 vm
Filed under: Goeters

Vir meeste mense verwys die guitige term “onskuld verloor” na ‘n eerste groot vry, ‘n eerste meisie of dalk die troudag…selfs dalk ‘n geweldadige of dramatiese insident. Nie vir my nie…my onskuld het ek verloor op ‘n baie meer onstellende, angswekkende traumatiese wyse…’n Dag wat soos ‘n donker wolk onder die silwer randjie van my jeugjare sou hang. En hierdie donker wolk het ‘n naam, en vrek koue hande daarby, gehad; Suster Mentz…

Menige seun, dogter, man en vrou sal ineen krimp by die aanhoor van die woord “Skoolsuster”.  Die blêrrie skoolsuster…Maar laat ek vertel.

My vyfde lewensjaar slyt ek in ‘n heerlike kleuterskool in die Rosestad. My juffrou was oulik, my maatjies was oulik en die sandput was ekstra diep. Sorgvrye jare man, sorgvry! Tot eendag, toe die donkerwolk in ‘n vreemde Volkswagen Fleetline Kombi met witgeverfde ruite by ons Utopia opdaag. Skielik het die onderwysers sagter gepraat en slegs met die oë beduie…ons kinders is almal in ‘n klaskamer ingejaag soos lammers ter slagting. Daarna is die seuns en dogters geskei en is ons volgens Van ingedeel in groepies. Toe word ons gehaal en na die verste klaskamer geneem. Binne die klaskamer was twee ouerige dames in wit uniforms doenig. Die een sit by snaakse kontrepsie wat soos ‘n oorgwig verkyker lyk, en die ander verdwyn elke nou en dan agter ‘n wit wieleitjiesopslaanskerm.  Ons juffrou stel die twee anties met ‘n formele stem aan ons voor…”Suster Mentz en Suster Swanepoel”, maar Suster Swanepoel val haar in die rede en sê ons moet ons klere uittrek – sy’s haastig.

Nou verbeel jou…daar staan jy in jou onderbroekie. Dis koud en jy’s vrek bang. Dan gaan jy na Suster Swanepoel, kyk deur die vet verkyker en staan op ‘n skaal sodat sy jou kan weeg. Dan druk sy ‘n koue apparaat in jou oor en beloer jou harsings van alle kante. Daarna gaan staan jy in ‘n ry by die wit wieletjiesskerm waaragter Suster Mentz skuil.
En jy wag.
Jou hart klop in jou keel en die hoendervleis slaan uit op jou koue arms.  Duisende kindergedagtes gaan deur jou kop. Dit voel soos ‘n ewigheid wat jy daar staan. Dan bulder die vrou jou naam van agter haar skans en jy sien die oordeelsdag kom…Agter die skerm kyk sy jou op en af, meet jou met ‘n koue liniaal en tel jou rugwerwels (of so het dit gevoel). Dan doen sy iets wat net glad nie sin maak nie…
Sonder seremonie of waarskuwing druk sy haar koue hand voor by jou onderbroek in, gryp jou daar onderlangs en bevoel jou deeglik. Dan maak sy nonchalant ‘n aantekening ‘n poeiergroen leêr terwyl jy wasbleek wonder of jy vir haar moet se dat jy nounet die “no-feeling”, waarvan Juffrou altyd vertel, gekry het. Dan beduie sy met haar muisbruin-oë dat jy maar kan gaan. Jy trek so vinnig moontlik jou kleertjies aan en vermy oogkontak met enigeiemand…die res van die dag voel jy nie lekker nie. Daarna praat niemand daaroor nie…maar jy dink steeds met angs en pêrelsweet terug aan die Dag van die Donderwolk.

Dis dan hoe ek my onskuld verloor het, op hierdie vreeslike wyse aan die hand van Suster Mentz…En ek wonder baie, hoe laat mens nou vir ‘n 5 jarige seuntjie verstaan wat daar gebeur het? Is daar nie meer menslike maniere om daardie ondersoek te doen nie? Kon hulle nie ten minste vir ons dat, en wat Suster Mentz gaan voel nie?

En, vir vloeksteen, kon sy nie ten minste haar hande net so bietjie opgewarm het nie…?

Gaan lees ook Rosalind Franklin se skoolsusterervaring!



Duskant Sutherland Hersien (Hersien)
September 12, 2008, 8:02 vm
Filed under: Goeters

Daarsy.

Die rekmerke wat die header aanvanklik soos ‘n dragtige  seekoei laat lyk het is iets van die verlede en die onooglike grafika-pieksels is darem nou kleiner as millimeters…Ek moet sê het het met ‘n swaar hart afskeid geneem van my vorige header (dis bietjie sad…is dit nie?) maar verandering is so goed soos ‘n skoon Jockey 😉 , of hoe? En daarby voel dit kompleet soos ‘n nuwe begin…’n ander seisoen vir Duskant…

Nouja, ek lê aan, hef in die hand en ‘n heerlike bloggemeenskap ter inspraak.

Gereed…mik…
Ek kan nie wag nie!