duskant sutherland


Ewig Weideman
Augustus 29, 2008, 7:53 vm
Filed under: Gedagtes

George Weideman
1947 – 2008

Letterkundige, skrywer, Karooseun, vriend.
“…’n Begaafde en bekroonde skrywer wat vir die jeug én volwassenes geskryf het…”
…en ‘n great mens.



Laastens…
Augustus 28, 2008, 7:34 vm
Filed under: Gedagtes

Ek griffel maar min deesdae maar het lanklaas so baie op blogs rondgelees. Dis so ‘n bose catch 22; as ek blog, is daar nie tyd om te gaan kuier by die ander bloggers nie…en andersom. Nietemin, die afgelope weke was vol tragedie, met baie menings en baie vrae. Ook was dit ‘n week van genoegdoening vir sommige, ‘n tyd van smart vir ander.

Ek lees gisteraand wat ‘n persoon wat hom / haarself die pseudoniem“Kwaad” noem, by Attie se koffietafel skryf . Dit het my, om die minste te sê, aan die hart gegryp en herinner aan presies hoè wreed en destruktief die woorde en aksies van kinders, en volwassenes, kan wees.

Ook het dit my laat dink aan aan ‘n wysheid wat my  ouma altyd kwyt geraak het:

TO KNOW ALL, IS TO FORGIVE ALL

Laastens is daar ‘n lewensbeginsel wat ek dink elkeen van ons maar ter harte kan neem:

Laat hy / sy wat nog nooit ‘n verkeerde pad geloop het nie, die eerste klip gooi…



Die vergete blokkie tag…
Augustus 27, 2008, 10:47 vm
Filed under: Goeters

Ok, ek kry deesdae nie eens kans om te blog nie, wat nog te sê van TAG speel…

Julle weet teen hierdie tyd al hoe dit werk…

1. Wat is jou naam?
2. Wat is jou gunsteling kos?
3. Na watter skool het jy gegaan?
4. Wat is jou gunsteling kleur?
5. Vir watter vermaaklikheidster sal jy jou stembande die ergste met nikotien en gille beskadig*?
6. Wat drink jy graag?
7. Waar gaan jy as jy nie hoef te werk nie?
8. Jou gunsteling poeding, nagereg?
9. Wat wil jy wees wanneer jy eendag groot is?
10. Waaraan heg jy die meeste waarde in die lewe?
11. Jou blognaam of AKA?
12. Een woord wat jou beskryf?

Die fotos korrespondeer as volg:
1…2…3
4…5…6
7…8…9
10…11…12

Antwoorde skryf ek in die volgende post…maar kyk of julle hom kan uitfigure…
* In Afrikaans, met spesifieke erkenning aan Johan 😉



Essie en die vleiskoek
Augustus 15, 2008, 1:15 nm
Filed under: Gedagtes

Ek lees vanmore, so met my daaglikse webwandel ‘n inskrywing daar by Kuifkop-hulle oor ‘n nuwe slenter wat glo daarop dui dat huishulpe hulle “base” se huise met selfone afneem ten einde misdadighede met die inligting in die mou te voer. Vir my klink dit verregaande maar vir verskeie Parras was dit duidelik die katalisator wat daardie onderdrukte rassegevoelens sommer vinnig in hulle opmerkings laat vlamvat het. Soos bv.:

“Verbaas my glad nie.”

“Dit is soo tipies!!!”

“Ek ‘trust’ die goed net soo ver soos ek hulle kan sien!”

“Hulle almal steel, of dit nou net ‘n teesakkie op ‘n slag is, bietjie suiker hier, bietjie opwasmiddel daar of jou hele drank kabinet leeg, maar hulle almal fokken steel, jy moet net een kry wat minder as die res steel.
My buurman bel my eendag en sê vir my dat hy deur my huis se venster kan sien hoe drink die ousie uit een van my bottels uit. Hy kon ongelukkig nie vir my sê watter bottel dit was nie, ek het toe 4 oop bottels drank by die drein afgegooi, want ek drink nie uit ‘n bottel waar haar lippe aan was nie.”

“My pa se altyd :-vertroetel die adder aan jou boesem…maar ai- wie gaan dan die strykwerk doen.”

Lieflik nè…

Essie is die “ousie” by my ouers se huis, inderdaad ‘n karakter op haar eie. My pa vertel graag en met smaak van die dag, nou meer as tien jaar gelede, toe hy by ‘n agentskap gaan aanklop het opsoek na ‘n huishulp. Die bediendes het so een na die ander verbygekom maar geeneen het werklik ‘n indruk op hom gemaak nie.
Toe kom Essie binne.

Kort, potsierlik, swaksiende, mank-loperig en so klein bietjie stadig van begrip…’n vrou van by die 45,  wat nie kan skryf of kan lees nie en ‘n interessante variant van Afrikaans besig. Daar is glo min gepraat tydens die onderhoud maar my pa se gevoelte, plus die “uiters betroubaar” verwysing in haar “getuigskrif”,  besorg haar toe die werk.

Nouja, sy het deel van ons gesin geword en ons ook toegeëin as haar familie – so op haar manier. As ek nou terugdink herhaal momente saam met hierdie vrou hulleself in my gedagtes…

Die koppies koffie wat sy vir my gemaak het met my matriekeksamen. En sy wat vir my sê ek leer te veel want “ek is mos slim”.
Die kere wat ek en sy na Pretoria Akademies Hospitaal moes ry sodat sy vir oogondersoeke kon gaan en hoe sy angstig my hand styf vasgeklem het wanneer ons deur sale en gange na haar “dokotela” moes gaan soek.
Die keer toe ek aangebied het om haar, hoog in die nood, na haar broerskind se begrafnis te neem.  Vroeg die Woensdagoggend val ons twee met my ou studentekar in die pad Witbank toe, sy dring trots aan dat ek saam ingaan by die kerk, want ek is haar “wit mogwera”.
Die kere wat ek siek in die bed by die huis was en sy wat sonder seremonie in my kamer inkom, vir my tee gee en sê ek moet “move” want sy wil aan die kant maak.
Haar kookkuns, wat aan die begin tot verskeie skermutselinge in ons huis gelei het. Sy het die vermoë gehad om van frikadelle een groot ronde frikaddel te maak wat ons altyd “vleiskoek” genoem het. Na ek uit die huis getrek het het ek eers besef hoe lekker haar kos eintlik is!
Die gesprekke, saamlag, saamstap en sommer net saambestaan. Sy sê deesdae vir my ek moet vinnig trou want ek “gaan nie altyd so mooi wees nie”.  Toe sy onlangs hoor dat ek oorsee gaan studeer het sy stil geword, stip na my gekyk en gesê “hao, dis mos te swaar!”.

Maar die gedagte wat ek altyd sal koester was die dag toe ek vinnig vir haar moes help met ‘n portret in haar kamer, toe sy my toegelaat het in haar heiligdom. Bed, metaal klerekas en “sideboard” wat bestaan uit ‘n plank op verfblikke met plastiekblomme en “table charms” op. Teen die muur ‘n stuk karton met klomp fotos sorgvuldig opgeplak, van haar suster wat “van die long” dood is, haar dogter wat nie werk kry nie. Ander familielede. Maar ook van witmense; haar vorige werkgewer, diè se kinders en hul troeteldiere. En ‘n ou foto van ons gesin, op goedkoop plakpapier as raam teen die karton geplak.
Elkeen van ons. Haar gesin. Haar mense.
En ‘n fototjie van my, sommer so ‘n gewone een.

Want ons is mos familie.



Duskant Sutherland (hersien)
Augustus 13, 2008, 10:19 vm
Filed under: Goeters

Binnekort gaan Duskant Sutherland ‘n heel ander baadjie dra.

Hou hierdie spasie dop.



Wanneer insig alle redelike perke van merkwaardigheid oorskry…
Augustus 12, 2008, 12:12 nm
Filed under: Geite



Om te val…Twee (Dood [inc.] II).
Augustus 6, 2008, 12:49 nm
Filed under: Gedagtes

( https://duskant.wordpress.com/2007/11/02/dood-inc/ )

Aan die verhuisingsmanne
Ernst van Heerden

Dra sagies, vriende,
Want sierpotte en erdewerk,
Keurborde en fyn glas
Sluit ’n hele lewe
Met sy drome
En verlangens in;

Dra saggies, mededraers,
Want die drag,
Van veerbed,
Tafels,lessenaar,
Druk teen die bors
Se dun skelet;

Dra sagies, regters
Want die oordeel
Oor my klein bedryf
Lê vasgevang
In prente, boeke
En ’n eie ou gemakstoel;

Dra sagies, Gode,
Want die hart se porselein
Is broos en te veel seer
En kwesbaarheid geneig:
Die kratte van ’n lewe
Kan so maklik breek

‘n Paar weke terug het ek ‘n inskrywing gemaak en denkbeeldige situasie geskep waar ek in ‘n vliegongeluk betrokke sou gewees het. Dit het my weereens lukraak aan die dood laat dink en my laat wonder hoe mens rasioneel oor die dood moet dink. Swartgallig en fatalisties wil ek nie klink nie en ek het nog altyd gedink dat ‘n gesprek oor hierdie onderwerp nie noodwendig ‘n depressiewe vingerafdruk hoef te laat nie. Ek meen, oor duisende jare het hierdie natuurwet, so seker is soos niks anders nie, die lewens van elkeen wat op aarde geleef het gedelegeer.
Dis ‘n lewenssiklus, soos eet, slaap en lag. Of is dit…?

Vanmiddag lees ek verskeie inskrywings oor ‘n gestremde seuntjie, Nathan, by ‘n blog genaamd “Nathan, our gift from God”.

Nathan, wat baie siek was die afgelope tyd, is verlede week oorlede.
Sy ma skryf:

“I was told by a man of God that it is ok to be angry with Him. That it is ok to bargain with him. That this too shall pass. That I must cry. That I must remember. And that he will pray to give me a picture in my mind of my smiling baby. That he will pray for peace in my heart so all the “what if’s” may be answered. Or not but that I will understand and see some of his bigger plan. But I am angry. Because I did try. And I want to be angry. And I am.”

Skielik weet ek nie meer hoe om oor die dood te dink nie. Skielik is rieële terme nie meer ter sprake nie en is die dood so abstrak soos die donker self. So wreed soos die wreedste oorlog – dalk nog baie wreder.

Nathan…

…jy het my vandag vir ‘n oomblik weer laat dink aan waaroor die lewe gaan.
…jy het my vandag nederig gemaak vir al die voorregte wat ek het.
…jy het vandag in my hart kom gesels oor dankbaarheid en liefde.
…jy het my vandag laat huil.

Vergun my, ‘n vreemdeling, om jou nagedagtenis vandag te eer.