duskant sutherland


Beale Street Blues
Maart 25, 2008, 1:49 nm
Filed under: Kiekies

Memphis…twee dinge wat my verbyster het:

Graceland (eintlik die hele Elvis Presley Boulevard)…een van die beste Museum-komplekse  wat ek al ooit gesien het. Jy hoor Elvis, jy sien Elvis. Jy proe hom en jy ruik hom. Hierdie is Elvis-hartland. En ek is nou ‘n bekeerde Elvis aanhanger…

 img_3375.jpg

Beale Straat. Die broeikas van die Blues en historiese lewende legende. Amptelik het hierdie area letterlik die meeste kreatiewe geeste per vierkante meter…en mens ervaar dit intens. Dis in die lug wat jy inasem en jou hart kom vinnig in ritme met die polsende Blues-beats. Wonderbaarlik.

img_3515.jpg

 Amper tyd om te gaan. But not just yet…

Advertisements


Dancing in Memphis…
Maart 13, 2008, 11:10 nm
Filed under: Goeters

Die wanderlust maak my weereens onrustig…

Uiteindelik…na ‘n belaglik-omvattende proses is ek more oppad na die Verenigde State van Amerika om daar stukkies van my toekoms te gaan verken. Ook sien ek na etlike maande weer my beste vriende wat daar woon. Ek sien uit. Baie.

Maar dit beteken allermins dat ek nou my blogtekkies ophang vir die paar weke.

Sien julle in Memphis!



die ander, ek
Maart 9, 2008, 6:47 nm
Filed under: Gedigte

Die Kranksinnige

In hierdie sel
agter die grense
van die vel
en die hoë
vensters van die oë
is twee mense:

die een is gek,
die ander, ek.

Dis hy wat kerm en gil
maar ek is bang en stil.

In elke klein uur van die nag
veg ek teen hom met minder krag
en as hy wen dan skree hy luid

sy wrok teen God en wêreld uit.
In hierdie klein vertrek
van vlees en been,
is twee. Die een
is gek,
die ander, Ek.

S.J Pretorius

 oldman.jpg

 



Struikel-en-valrisiko’s 101
Maart 6, 2008, 3:45 nm
Filed under: Goeters

Die spesifieke Universiteit in Pretoria waar ek werksaam is, is nou-al berig vir hulle substansiële en ongelooflik deeglike interne kampuskorrespondensie. Ek praat nou van die kennisgewings, aanmanings en nuusbrokkies wat, nie daagliks nie maar al om die uur, aan alle personeel via e-pos gekommunikeer word. Wag laat ek gou tel…daar het vandag 11 items vanuit hierdie bron in my Inbus opgeëindig. Maar dis nie als sleg nie, soms sorg hierdie diens vir stof tot dieper nadenke. Soos die volgende juweel, en ek haal aan:

Struikel en valrisiko’s op kampus

Geagte kollegas
 Die grootste enkele oorsaak van beseringinsidente op ons kampusse is struikel- en valinsidente.  Dit is nou vir die derde jaar nommer een wat betref oorsake van beroepsbeserings. Gevolglik word u vriendelik versoek om die volgende voorkomende optrede in gedagte te hou wanneer u op kampusse of in geboue beweeg.

1. Wees bedag op die moontlikheid van ongelyk loopvlakke veral as u oor dienskanale en plaveisel beweeg.

 2. Probeer donker areas vermy waar moontlik. 

3. Moet nie op trappe hardloop nie.

 4. Wees versigtig waar vloere gepoleer of gewas word. Waarskuwingsborde ten opsigte van gladde vloere moet deur skoonmakers in opsigtelike plekke geplaas word.

 5. Moet nie artikels op so ‘n wyse dra dat u nie behoorlik kan sien waar u loop nie, veral nie wanneer van trappe gebruik gemaak word nie.

6. Wees veral versigtig wanneer dit reën om sondermeer by ‘n gebou in te stap sonder om seker te maak dat u skoensole droog is.

 7. In geval van gebou-ontruimingsoefeninge moet u asseblief nie hardloop nie, maar doelgerig na u naaste versamelarea loop.

Vriendelike groete, ADJUNKDIREKTEUR : FASILITEITEBESTUUR

Merkwaardig, inderdaad merkwaardig. Daar is nou vir jou merkwaardige insig. Ek moet sê veral punt 5 en 6 het vandag iets vir my kwynende moraal beteken…

larson.jpg



So oppie rassisme topiek…
Maart 5, 2008, 11:01 vm
Filed under: Geite

…daar is dan ook die anderkant van die muntstuk. Lees ek nou gister die volgende ou brokkie in die Griffel van die Volk:

“Lebo M, mede-vervaardiger van The Lion King, het eergisteraand ’n herrie by die Naledi-teaterpryse ontketen toe hy geweier het om ’n toekenning in ontvangs te neem. Hy het beweer die Suid-Afrikaanse teaterbedryf is rassisties. Toe Lebo M op die verhoog gaan om die prys te ontvang, het hy gesê hy voel beledig daardeur aangesien geen ander swart akteur ’n prys gekry het nie. Hy het bygevoeg dat hy dit oorweeg om weer in ballingskap te gaan as dít is wat in Suid-Afrikaanse teater aan die gebeur is. Die gehoor, wat die internasionaal erkende akteur en dramaturg dr. John Kani ingesluit het, het tydens sy tirade begin “boe” en te kenne gegee dat hulle nié met hom saamstem nie. Hy het daarna die verhoog verlaat sonder om erkenning te gee aan Toerien, of enige van die akteurs in die produksie. Hy het ook die Naledi-trofees en wennerstjek op die vloer neergesit. Lebo M het ook gekla dat hy tydens die pryse heel agter moes sit, terwyl hy by die Oscars in die voorste ry gesit het. Dawn Lindberg, uitvoerende regisseur van dié pryse, het Lebo M se bewerings as onsin afgemaak: “Hy het ’n uur en ’n half laat opgedaag en was na ’n agterste sitplek geneem omdat die vertoning reeds begin het. Hy kon enige tyd vorentoe geskuif het.”

Ai, die rassekaart, die rassekaart. Ek dink baie van ons voel al oor die rassekaart soos Schalk Burger oor ‘n geelkaart…Soos nouweer met onse voorsanger Lebo…ek dink natuurlik die ou was nouweer suur omdat hy nie gepamperlang is nie en omdat hy tussen die gepeupel moes sit…Dat ‘n professionele man nou so ‘n temper-tantrum kan gooi en sy naam so gat maak. Sjoe…ballingskap? Dis ‘n duur prys wat ons gaan betaal omdat ons ‘n gelykheidsvegter tussen jan-alleman laat sit het, hoor! Wat dink ek hiervan? “Booooeeeeeeeee!!!!!!!”.

lionlebofin.jpg

 



Die geraamtes in jou kas het begin kriewel…
Maart 5, 2008, 7:49 vm
Filed under: Goeters

www.heimlik.wordpress.com

geheime.jpg

Engeland het een.
Nederland ook.
Amerika s’n is groot!

Nou het Suid-Afrika ook sy eie weergawe van die oorspronklike postsecret in die vorm van Heimlik, ‘n interaktiewe poskaartjoernaal waar jy jou grootste, lekkerste, hartseerste of sappigste brokkie geheim aan die wêreld bekend kan maak…in Afrikaans! Soos die webwerf inderdaad voorstel:

“Wees kreatief – spoeg en plak as dit moet sodat die begeertes van jou hart, die storieboek van jou verlede of die vuil onder jou vingernaels op ‘n poskaart gestalte kry…in Afrikaans! Stuur dan vir ons jou bydrae en ons sal dit hier plaas.”

Die konsep het tot stand gekom -en is gebaseer op die postsecret verskynsel in die VSA waar die Blog-fenomeen op ‘n nuwe (anonieme) wyse interaktief geword het. En dit was eenvoudig…maak ‘n poskaart, skandeer dit of pos dit na die webmeester wat dit dan publiseer, en voila! Die belangrikste “selling-point” was natuurlik die sterk “secret” suggestie en die gewone man en vrou op die straat het die geleentheid aangegryp om hulle diepste opkroppings aan die wêreld te vertoon. Naamloos maar daar waar miljoene dit sal sien.

En Suid-Afrika is nie anders nie…ook maar mense met dinge en geite. Ons het wel een ding wat vir ons tel: Afrikaans!
Die mooiste en mees-ekspressiewe taal op aarde…kreatief en visueel op papier!
So spring in, steel jou kind se Pritt…grawe jou Scrap Booking voorrade uit.

En laat jou hart gaan.



Hêppie hêppie, Mnr. G!
Maart 2, 2008, 12:39 nm
Filed under: Goeters

 gormendzer1.jpg

Johan Swarts, aka gormendizer het gister verjaar.

Geluk ou maat, mag dit ‘n GROTE wees!