duskant sutherland


Kosmiese Openbaring (II, III & IV): Skok, Skokkender en Skokkendste
Junie 28, 2008, 7:19 vm
Filed under: Gedagtes

Na ‘n lang week van veldwerk in die bloedige hitte van die Limpopovallei (slegs ‘n klipgooi van Zimbabwe) het ek tot verdere insigte en kosmiese openbaringe gekom.

II – Glo liefs die Bestuurder van die Natuurreservaat waar jy navorsing doen wanneer hy jou waarsku dat die geelektrifiseerde wildsheining lewendig is…

III – Al braai jy saam met mense by ‘n kommune en kuier oor ‘n Windhoek, is dit nie te sê dat hulle nie jou selfoon gaan steel nie.

IV – Dit is waarskynlik inderdaad net die liewe Here wat Bob uit sy aambei-kussing sal kan lig.



Kosmiese Openbaring (I)
Junie 18, 2008, 9:41 nm
Filed under: Geite

Minibustaxi’s in Bloemfontein laat jou stom…

Minibustaxi’s in Pretoria laat jou vloek…

Minibustaxi’s in Kaapstad laat jou bid…



Om te val
Junie 15, 2008, 7:48 vm
Filed under: Gedagtes

Ek sit vanoggend en staar by die vliegtuig se ruit uit, die mango-oranje motore skuins onder my, die Karoo se oneindigheid as palet daar ver onder. Sit ek toe nou sommer so en dink en wonder en onthou. Na ‘n rukkie sien ek ‘n dun straaltjie rook by die motore uitkom. Dit raak dikker en swarter. Skielik is daar vlamme, die vliegtuig kantel na links en begin ruk. Oral is passasiers vreesbevange – kan dit wees? Ek sit verstar na die motore en kyk. Na ‘n rukkie begin stukkies metaal soos vlieënde swaeltjies van die motore afval grond toe. Nou duik die Boeing 737-800 meer as 45 grade na links. Die tannie langs my se koffie kantel om op my been maar ek voel nie die brand nie, want ek is bang. Vir die eerste keer lig die loods ons in oor wat aangaan: ”ons het ‘n motore verloor, dames en here”. “No sh*t…” dink ek by myself. Hy vra dat ons kalm sal bly en sê dat ons na ‘n vliegveld buite Beaufort-Wes oppad is. “Beaufort sien ons nie vandag nie” dink ek fatalisties. Die vliegtuig wieg nou heen en weer en skud verskriklik. Dan sien ek die skrikwekkendste gesig wat ek al ooit aanskou het. Waar daar sekondes gelede nog ‘n brandende motore was, is nou slegs ‘n rokende hegtingspunt. Hey, dink ek by myself, as daardie Nationwide vlug met slegs een motore kon land sal ons dit seker ook kan doen! Asof die loods my gedagtes lees, verseker hy ons deur ‘n krakerige omroepstelselstem dat alles onder beheer blyk te wees, en dat ons oor min of meer 10 minute in Beaufort Wes sal land. Binne die vliegtuig is alles doodstil. Daar is ‘n premature verligting onder die bleek passasiers. Ek kyk weer na die vlerk wat nou vir my soos die veerlose vlerk van ‘n voël lyk. My hart klop in my keel…maar my asemhaling is rustiger. Dan gebeur dit. ‘n Klein vlammetjie verskyn waar die motore aan die vliegtuig geheg was. Dit groei vinnig, baie vinnig.

Skielik is daar ‘n vuurbol wat my verblind en my gesig warm maak.

Die res is flitse in my kop…die vliegtuig kantel geweldadig, die ligte gaan af, mense gil, die vlerk verdwyn, die vliegtuig tol na onder, dis soos ‘n rollercoaster, net baie vinniger. Mense gil. ‘n Swaar rugsak val op my. Ek raak naar. Ek maak my oë toe. Dis swart. Daar is ‘n slag. Dit bly swart.

Gelukkig is alles baie vinnig oor.

Dit is vinnig oor omdat ek juis toe ek vanoggend by OR Tambo opgeklim het moes badkamer toe gaan maar deur die tyd gevang is. Nou ruk die natuurroep my uit hierdie vreesaanjaende droom…
“Jy kyk the veel Air Crash Investigation” op Discovery, dink ek sommer dadelik by myself.

Terwyl ek so in die noute van die vliegtuigtoilet staan en ontspan soos mens maar net kan ontspan wanneer die nood groot was, herleef ek weer die super-realistiese droom wat ek nounet daar in my sitplek gehad het.

So-iets voel so onwerklik en onmoontlik maar dit is wraggies moontlik en indien dit gebeur, baie werklik.
Ek wonder hoe dit voel om jou laaste oomblikke op aarde op hierdie manier te slyt. Ek wonder of jy regtig in ‘n oogwink ‘n précis van jou lewe sien…maar met elke klein detail. Ek wonder of jy pyn voel, of dit seer is. Ek wonder of die dood vinnig kom, en of jy letterlik tot op die laaste ‘n kognitiewe bewuste het.

Ek wonder of jy die slag hoor…



Au revoir kitchenboy…
Junie 8, 2008, 6:19 nm
Filed under: Gedagtes

Braam “Kitchenboy” Kruger
1950 -2008

Gister in Johannesburg oorlede aan bronchitis.
Flambojante, interessante koskenner, kunstenaar en joernalis – hy sal gemis word.



1 Jaar: It’s my party and I can braai if I want to…
Junie 8, 2008, 5:23 nm
Filed under: Goeters

Op 8 Junie 2007 het duskant sutherland ‘n nederige begin met hierdie inskrywing gemaak:

Vanaf daardie dag vandag ‘n jaar terug het daar baie woorde in die kubersee geloop en het hierdie blog lekker gegroei.

Sommer so vir interessantheid, so bietjie duskant sutherland blogtrivia:

Datum van eerste inskrywing:
8 Junie 2007 om 21:28

Aantal inskrywings tot op datum:
163

Aantal leserkommentare:
671

Trefslae tot op datum:
11 254

Besigste dag:
2008/05/08 (179 trefslae)

Van die gewildste inskrywings (trefslae):
Só werk dit: BOERERATE
Jurie, Hes en die Geneefse Konvensie

Van die gewildste inskrywings (leserkommentare):
Waarom Blog? Outobiografie van ‘n Weblog 1
Angus Buchan – ‘n alternatiewe perspektief
Fotostudie: windpompe duskant sutherland
If racism is dead it sure stinks around here…

En van die minder gewilde skrifsels:
Voorspoed en vreugde
poetry of death
Die ou storie van Bok en Koos

Soekterme wat lesers al na hierdie blog gelei het:
“godsdiens”, “buchan”, “meerkat seks”, “soen my”, “gluteus maximus”, “lelike gedig”, “jan bosveld troue van 2006” (wat de hel…?)

Hardeware wat gebruik word:

Toshiba Sattelite M205-S4826 (14 duim meneertjie).
Intel Core2Duo 2Gigahertz prosesseerder, 3 Gigagrepe geheue en so aan…lekker speelding.

Sagteware wat hierdie blog mooi maak:


En…?
Wil jy enigeiets ander weet? Vra gerus en net vandag, op hierdie heuglike verjaardag sal ek alle vrae beantwoord 😉 .

Nouja, ek het ook besluit om hierdie blog so bietjie kosmeties op te dateer en sal graag wil weet wat elkeen van julle van die blog dink…maar meer spesifiek waar ek die voorkoms en inhoud kan verbeter. So, laat waai en laat ek hoor!

Laastens, baie dankie aan elkeen wat hier lees…baie woorde sal nog hier wortel skiet!

Karoogroete.



Kleine Mnr. Sonskyn: Adelseun – ‘n gevalle studie
Junie 5, 2008, 8:35 vm
Filed under: Goeters

Ontmoet Adal-Son Coetzee. Ek weet nie rerig wat om meer te sê nie…

Soms, net soms, word mens mos so gedwonge stil, jy skud jou kop en jy wonder…Ek praat nounie hier van ‘n dieper bewuswording van die heelalmetafisiese of jou matriekeindeksamen Skeinat vraestel nie. Dis daardie verslae verwondering van die absurde. So ‘n gevoel van ongeloof maar tog ook met ‘n element van “scary but possible”. Word ek toe noudiedag van hierdie einste gewaarwording bewus toe ek hier en hier gaan kyk nadat ek die volgende artikel in die Volksgriffel se Sondagsuster raaklees:

Simson-seun mag hier nie sy rugby speel
‘n Sesjarige seuntjie met ’n bos hare wat op sy rug hang, is deur ’n skoolhoof van Pretoria aangesê om sy lokke te laat sny alvorens hy vir die skool se o.7-rugbyspannetjie mag speel. Adal-Son, wat nie in ’n skool is nie, maar tuisonderrig kry, is toegelaat om by die Woodhill College aan sport deel te neem…[ ]…sy lang hare het egter veroorsaak dat hy nie op die veld gedraf het nie. “Ons het al sy kortbroek en rugbytrui vir R415 gekoop toe die skoolhoof ons bel om te sê Adal-Son mag nie speel nie,” sê sy pa, mnr. Willem Coetzee.  Woodhill College se skoolhoof, mnr. Mike Theunissen, sê Coetzee is van die begin af ingelig dat Adal-Son se hare gesny moet word as hy vir Woodhill wil speel. “Coetzee het die skool genader om sy seun hier te laat rugby speel en ons het hom ’n guns bewys deur hom die kans te bied,” sê Theunissen. “Volgens die skool se reëls moet seuns se hare tot bokant hul ore en nek gesny wees, maar Coetzee het geweier om dit te laat doen omdat sy seun se hare glo van sy geboorte af nog nooit gesny is nie.” Adal-Son speel kitaar in sy sussie, Son-Isha, se orkes. Die groep is onder meer bekend vir treffers soos De la Rey moet ’n meisie kry. Adal-Son is juis bekend om sy lang lokke. “Aanhangers van my seun se musiek hou van sy lang hare en hulle sal teleurgesteld wees as hy dit sny,” sê Coetzee.

Gaan kyk ek toe na die webtuiste van hierdie knaap en sy ewe “bekende” sussie…En dis mos toe nou net daar dat daardie stomheid my slaan. Iets is netnie reg met hierdie prentjie nie…

Nou sit en wonder ek sommer so hardop…wat gaan hier aan? Wie is hierdie mense en waarom moet ons van hulle kennis neem?

En is dit nie ongelooflik verwaand van Mnr. Coetzee om te verwag dat sy seun, wat alreeds op vergunning by Woodhill betrokke is, spesiale behandeling ontvang nie. Hoe bekend is Adel dan presies dat sy ondersteuners van hom vervreem gaan raak indien hy se hare kap? Ek glimlag ook breed vir die verwysing na die rugbykleertjies wat ten duurste vir Adel angekoop is…maar bygesê, miskien moet pappa Coetzee juis sy pennies omkeer om ousus Son-Isha se toerbus te finansier…

Goed, alle grappies op die spreekwoordelike stokkie…Ek dink nou so terug aan die jeugjare van my lewe, darem nie te lank terug nie…Op ses het ek albasters en scalextric gespeel, gereeld pakslae gekry en gesukkel om verby my Gr.1 onderwyseres te kom. Op ses het ek tot laatmidaag saam met my boeties in die park “dryfings” en “touchrugby” gespeel en was ek 8 uur in die bed. Ek onthou hoe trots ek was op my eerste Super Springbok rugbybal en ek het hom gedubbin dat hy soos ‘n vuurkool geblink het. Ek onthou hoe ek eenkeer lelik teëgepraat het by die skool en vir myself ‘n liederlike pakslae van my Juffrou en my pa op die hals gehaal het. Maar ek kan onthou hoe gelukkig ek as kind was en hoe ek daardie jare geniet het. Ek onthou hoe trots my pa op my was toe ek my eerste drie gedruk het…hoe my ma gespog het toe ek die trommetjies in die slagwerkorkessie gespeel het.

Dan kyk ek na Adal en sy sussie en dit voel vir my ek het al iewers hierdie prentjie gesien…

Hoe benader ‘n mens ouerskap in 2008? Is dit ‘n geval van “Van wanneer af het ‘n maaksel ‘n wil” soos Elias van Rooyen in Dalene Matthee se “Fiela se Kind” verklaar -of juis nie? En mag ouers van hulle kinders goeters maak wat hulleself dalk nooit was of kon bereik nie? Wat sê julle?

Al wat ek sê…arme arme Adal-Son.