duskant sutherland


GPRS Gedig (vanuit d. Vreemde)…totstandkoming.
Julie 25, 2008, 2:50 nm
Filed under: Gedigte

“GPRS Gedig (vanuit d. Vreemde)” het gebeur op ‘n plaasdam-muur.

Doer in die Bosveld, so met sonsak-tyd.

Ek het nie geweet die foto word geneem nie…



Angus se aartappels en Benny se biljoene…
Julie 20, 2008, 8:22 nm
Filed under: Geite

Lees gerus saam met my die volgende berig wat vandag in die Sondagsuster verskyn het:

$1 000, die seën en siedaar, jy’s ’n miljoenêr

’n Seën van God sou twee minute duur. En dít sou van 500 kerkgangers miljoenêrs en selfs miljardêrs maak – as hulle met hul kredietkaarte elkeen $1 000 as offergawes aan die televangelis Benny Hinn oorbetaal. ’n Johannesburgse pastoor is só ontsteld oor dié “seën” dat hy nou, ná ’n week, wil weet wie van daardie skenkers miljoenêrs geword het. Past. Tommie Ferreira van die AGS-gemeente Floridapark, Roodepoort, sê dis nie sy bedoeling om Hinn tot ’n val te bring nie. Hy wil net graag weet of enige van die honderde kerkgangers wat verlede Saterdagoggend tydens Hinn se “Miracle Crusade” offergawes van tot $1 000 (sowat R7 500) gegee het, nou miljoenêrs is. Sowat 18 000 mense het verlede naweek na die Coca-Cola Dome in Randburg gestroom om na Hinn se boodskap van heling en wonderwerke te luister. Ferreira, ’n kranige koorsanger, het vrywillig aan die “Miracle Cru-sade” se koorsang gaan deelneem. Volgens hom het een van Hinn se Amerikaanse gassprekers, past. Todd Koontz, verlede Saterdagoggend in ’n boodskap oor finansiële laste gesê 500 mense in die gehoor gaan “ ’n besonderse seën” ontvang. “Hy het gesê dié diens gaan binne 24 uur miljoenêrs en miljardêrs oplewer. Elkeen moet $1 000 opoffer, want daar rus ’n besonderse seën op $1 000. Koontz het die kerkgangers glo veral aan die skarrel gehad toe hy gesê het “hierdie seën gaan net twee minute lank uitgestort word. Die mense het vorentoe gestorm – arm mense, ryk mense, mense van alle uithoeke van ons samelewing,” vertel Ferreira. Hinn se medepastore het glo kredietkaartmasjiene voor die gemeente gereed gehad waarmee hulle offergawes kon insamel. “Hy (Koontz) het gesê God gaan die mense se kredietkaarte seën en hulle sal met hul geld oor Suid-Afrika kan heers. Daar was uiteindelik nie minder nie as duisend mense wat só offergawes gegee het.” Volgens Ferreira se berekeninge het Hinn se televangelistiese gemeente met daardie offergawe miljoene rande ingesamel – dalk meer as R7 miljoen as al 1 000 kerkgangers $1 000 opgeoffer het in die hoop dat hulle miljoenêrs sou word. Boonop het Hinn kort ná Koontz se insameling van die $1 000-offergawes algemene offergawes ingesamel. “Dit het my hare laat rys,” sê Ferreira.  Hy sê hy sal nie met sy gewete kan saamleef as hy nie met ander mense oor dié moontlike slenter praat nie. “Ek val hulle (Hinn en Koontz) nie aan nie. Ek het net ’n broertjie dood aan mense wat ongegronde bewerings maak en dan is hulle weg met die mense se geld.” Dr. Sarel Smit van die AGS-gemeente Lofstad in Hursthill, Johannesburg, wat Ferreira ondersteun het toe hy met Rapport gesels het, is net so bekommerd oor die metode waarop Hinn offergawes insamel. “Veral in ’n tyd soos nou, waar ons erge nood beleef. Mense loop die gevaar om só hul geloof in die Here te verloor. “God sal in jou needs voorsien, maar nie in jou greed nie.” Rapport het ’n werker in Hinn se Suid-Afrikaanse kantoor in Durban genader wat Vrydagoggend gesê het hulle is “steeds besig om die geld te kollekteer. Ons kry baie goeie reaksie oor verlede naweek,” het die persoon gesê.  Hy wou nie geïdentifiseer word nie. Volgens hom het Koontz voor die insameling van die $1 000-offergawes ’n boodskap “oor die beginsel van wat jy saai, sal jy maai” gelewer. “Amerikaners praat altyd in dollars. As van die kerkgangers nie geglo het dat hulle wél geseën gaan word nie, moes hulle nie hul geld gegee het nie. “Die kerkgangers hoef nie $1 000 gegee het nie. As hulle dit nie kon bekostig nie, kon hulle minder gee. En van hulle het. Past. Todd het gepraat van goeie saad. As jy dit nie prakties saai nie, sal jy nie ’n goeie oes hê nie.” Die persoon het Rapport daarop gewys dat Hinn se gemeente binnekort ’n weeshuis in Suid-Afrika gaan bou. Hinn se Suid-Afrikaanse kantoor voed ook daagliks sowat 1 000 kinders in Durban.  Rapport het ’n opname van Koontz se boodskap gevra, maar volgens Hinn se kantoor sal hulle dit eers oor vier tot ses weke kan verskaf.

Hierdie berig spreek vanself…Mens het nie ‘n doktorsgraad nodig om hierdie adder wat teer op die romantiese idioom van “Miracle Crusades” te ontbloot nie. Afrekening sal kom, en dit sal soet wees.

In dieselfde uitgawe van die koerant verskyn die voorbladberig oor die saamtrek by Loftus gister waar 70 000 mense na die boodskap van o.a. Angus Buchan gaan luister het. Soos met die Mighty Men konferensie vroeër vanjaar het Buchan reguit en op die man / vrou / kind af gepraat, en soos met Mighty Men stroom getuienisse van oraloor in.

Maar ek wag daarvoor….

Ek wag vir die Lina Spies’e om weer bitter stukkies gal te braak oor Angus se “wandadige preokkupasie met Mag”.

Ek wag vir die Yolanda Dreyer’s en Christina Landman’e om weer, knap verpak in erudiete retoriek, ‘n openbare grap van Angus se “argaiese aartappelteologie” te maak.

Ek wag vir die Dana Snyman’s om weer met guitige kruisverwysings en narratiewe ‘n halfhartige middelvinger in die rigting van die bejaarde boer van KwaZulu-Natal te wys.

Ek wag vir die Freek Robinson’s en Debra Patta’s om weer, op eensydige wyse, agter die kap van die byl te probeer kom van hierdie “ekstremistiese ou man” wat skares huilend op sy knieë smeek om te vergewe.

Ek wag daarvoor en ek weet dit sal kom…more, dalk oormore….so terwyl nog ‘n paar duisend rand op bedrieglike wyse van armes gesteel word deur ‘n Amerikaanse wonderwerkprediker in ‘n wit Armani pak. Maar daaroor sal Lina swyg. Christina sal sumier na haar nuutgevonde gemeente in Dullstroom retireer. Dana sal eerder sy kar vol brandstof maak en nog ‘n reisverhaal skryf . Debra sal drie grade na links koes en haar aanval sal perdalks ‘n defensief word…

So sal die ou man met die veldhoed en die swaarkry-lyntjies om sy oë weer van vooraf voos gebliksem word terwyl die Amerikaner, tot barstenstoe vol Suid-Afrikaanse bloedrande, met sy Boeing 737 in sy moer in vlieg.

Want ons is tog so skytbang vir waarheid.



GPRS Gedig (vanuit d. Vreemde)
Julie 11, 2008, 10:39 vm
Filed under: Gedigte

in teks
ini alleen vani aand
mis ek jou by my vnaand
(as di bosveldwind deur boomtak-sing
van ver uit die stad vi my,
van jou ‘n sein bring)



Op soek na die Perfekte Veltie I*
Julie 11, 2008, 10:36 vm
Filed under: Goeters

(*’n Reeks baie vermaaklike inskrywings oor die Perfekte Vegetariese Toebroodjie deur bertus melk dien aanvanklik hier ter inspirasie…)

Dag mense en mede-sterwendes.

Na ‘n kort afwesigheid van blog interaksie spring ek toe gister vinnig op die kubersurfboard en gaan snuffel bietjie by die ander vriende rond. Behalwe vir ‘n ouder-gewoonte-uitstekende gedig deur mykopop val dit my toe op dat daar die afgelope weke nogal heelparty inskrywings gemaak is wat, meestal op guitige manier, so bietjie suid gaan verken en daar in die badkamer, slaapkamer en dalk meer spesifiek, die porseleintroon (en sake wat daarmee saamhang) gaan kuier. Ek lees bv. ‘n oulike inskrywing deur kaalvoet ini reën oor squat, piepie en daardie ontwykende reg-mik. Dan skryf Jaco daar by Wosonki ‘n baie raak inskrywing oor die ouditiewe kwaliteite van flatulensie.

Ek voeg my gedagtes by hierdie inskrywings waar ek vandag ‘n interessante saak wil ondersoek. Die Veltie. So oud soos die mensdom, dalk nog ouer. En so veeldoelig. Maar, in die gejaagde lewe van spoeltoilette, piepiepotte en Bidette, dalk vergete…ek meen hoeveel aandag skenk ons nog aan hierdie juweel in die kroon van ons konstitusies?

Ten einde hierdie vraag te beantwoord onderneem ek vandag ‘n blitsreis, jy kan maar sê, ‘n Veltie-jag opsoek na die Perfekte Veltie.

Ek gaan nounie te veel tyd spandeer aan definisies of filosofieë oor Velties nie, ons almal weet wat ‘n Veltie is en ek glo dat elkeen al die voorreg gehad het om hierdie aksie uit te voer. Kom ons kyk eerder na die praktiese eienskappe met die fokus op ‘n, sal ons maar sê, “hands-on” tipe benadering. Nouja, kom ek val sommer met die deur in die huis. Volgens my is daar drie kritieke punte wanneer ‘n goeie en kwaliteit Veltie ter sprake kom. Nee wag, kom ons maak dit 4…drie is heeltemal te konvensioneel.

A. Omgewing en ligging
Heel moontlik die belangrikste aspek van enige noemenswaardige Veltie is ligging. Wat is dan nou verveliger as om in ‘n akwamarine-gekleurde badkamermuur met generiese skulpie-ontwerpe vas te kyk wanneer ‘n mens die belangrikste van die natuurlike funskies verrig? En, ingelyks, wat is dan heerliker as om, diep in die bos ver oor ‘n verlate landskap van Akasia, Kremetart en sandsteen uit te tuur terwyl die konstitusie sy gang gaan? Wat ek eintlik sê…”location location location!”. Maak dit die moeite werd en onthou, dit hoef nie net nog ‘n veldsk*t te wees nie!

‘n Voorbeeld van ‘n minder goeie Veltie-ligging…

‘n Voorbeeld van die perfekte Veltie-ligging…

B. Privaatheid in postuur
Nou samehangend en verwant aan die vorige punt is privaatheid wanneer mens die posisie inneem. Nes die ongeskrewe reël dat manne nie oogkontak maak by ‘n urinaal in ‘n manstoilet nie, is dit ook min of meer ononderhandelbaar dat jy die Veltie-oomblik noodwendig, doelbewuus of onbewus, met GEEN ander individue deel nie. Daarom is dit nodig om ‘n akute waarnemingsvermoe te kweek ten einde die privaatste, dog aanskoulikste plek vir die Veltie te kies. Hierdie vermoe kom dan ook handig te pas wanneer daar deurgans ten tyde van die uitvoering van die taak privaatheid-patrollie gehou word.

C. Vlak van ongemaklike gemak
Niemand het gesê dat ‘n Veltie-toilet so gemaklik moet wees soos jou ouma se hekel-lap-bedekte toiletsitplek in Oudtshoorn nie. Maar tog bestaan hier ‘n goue middeweg tussen die onvoorspelbare ongemak wat jou herinner dat jy letterlik en figuurlik na aan die aare beweeg, en daardie onuithoudbare ongemak wat jou Veltie ruineer en jou onderbroek opfoeter. Ek is van mening dat die perfekte veltie slegs kan geskied waar daar werk ingegaan het, in hierdie geval…’n eenvoudige klipstruktuurtjie wat nuwe betekenis aan die word Veltie vir jou sal gee. “Veltie-toiltet bou?”…mag julle dalk vra. “Wat het dan van goeie ou squat geword?”…mag julle dalk vra. Wel, ek stel hier bekend, ‘n kort en bondige riglyn om die Stone Henge, die Lazy Boy van Veltie-toilette te bou.

(verwys deurgans na die diagramatiese voorstelling hierbo)

1: Soek die korrekte ligging (verwys na Punt A en B) en grawe ‘n gat, plus minus 20 cm x 15cm met ‘n diepte van so 15cm.
2: Soek twee min-of-meer reghoekige klippe. Plaas hierdie klippie aan weerskante van die gat teenoor mekaar.
3: Maak gereed om te gaan sit deur jou broek / rok af te trek. Plaas jou agterstewe op die twee klippe sodat jy gemalik sit en daar nie onnodige spanning op jou rug of bo-bene geplaas word nie. Handel jou sake rustig af.
4: Wanneer jy klaar is, gooi die gat toe en verwyder die twee klippe sodat die area min of meer lyk soos voordat jy dit vir die Veltie gekolonialiseer het. Omdat ek omgewingsbewus is raai ek te sterkste aan dat ‘n boompie of bossie op die gat geplant word sodat die saailing ook voordeel kan trek uit wat jy sopas aan die aarde terug gegee het.

D. V v V (Vlak van Verligting)
Laastens, het jy al ‘n yskoue Windhoek op ‘n blerrie koue dag gedrink? Nie great nie of hoe…maar daardie koue vloeistof is darem heerlik op ‘n bloedige dag waar die son jou roer. Nouja, netso vereis die perfekte Veltie die perfekte nood. Hoe groter die nood, hoe groter die verligting. En hoe groter die verligting, hoe beter die Veltie. Hier is wel weereens ‘n fyn balans tussen die vermoë om ‘n nood net reg te reserveer vir die Veltieoomblik en die nood onregverdig lank inhou, soveel so dat daar nie eens tyd vir punte A – C hierbo genoem, is nie. Daarom, wag vir die regte oomblik maar moenie van jou beste Veltieherinnering jou grootste Veltienagmerrie maak nie…

Ek moet, ter afsluiting, dalk net een en ander sê oor die “tools of the trade”. Soos maar met meeste dinge in die lewe, kom die bevrediging van die Perfekte Veltie teen ‘n prys…kom ons kyk:

Toiletpapier…ononderhandelbaar. Maar soms in ‘n noodsituasie moet ‘n mens ook kreatief wees en by tekort aan hierdie Wit Goud in die natuur se eie spens gaan krap wanneer dit by afvee kom. Oorweeg blare, grasse en selfs klippe – maar maak doodseker van die spesie en tekstuur; my oom het eendag met die naaste plant wat hy in die hande kon kry – ‘n brandnetel – afgevee en hy glo tot vandag toe dat ‘n Pofadder hom op die dinges gebyt het…jy wil nie hê dit moet gebeur nie.
‘n Mens koop deesdae heerlike opvou-grafies wat meestal onder 4×4 kringe gewild is. Hierdie outjies is ideaal vir die Veltie-slag, leen sommer een by die naaste Land Cruiser-eienaar maar maak seker dat die graaf slegs met grond in aanraking kom anders mag daar dalk ‘n Veldslag volg.
En dan, maak gebruik van die tyd op jou nuutgeboude kliptroon. Kyk wild, kyk voëls, sing, fluit. ‘n Verkyker kan veral handig te pas kom omdat jy heerlik na die natuur om jou kan kyk en ook ‘n bespiedende oog kan hou oor jou Veltie-kleim.

Ter afsluiting, maak van elke Veltie ‘n oomblik wat in die vergetelheid behoue sal bly.
Laat dit tel.

Veltie-groete.



Krismis in July…
Julie 11, 2008, 9:08 vm
Filed under: Kiekies

Kersfees het hierdie jaar vir my vroeg aangebreek. Nie net is dit op die oomblik so koud soos ‘n propperse Europese winterkerstyd nie maar gryse Sinterklaas het ook vroeg kom draaimaak en vir my ‘n ietsie uit sy sak gebring. Julle mag dalk al bemerk het dat ek nogal lief is vir fotografie en dat ek so teen Oktober verlede jaar vir my die nodige toerusting aangekoop het om my op dreef te kry. Nouja, te danke aan my broer wat in Hong-Kong konferensie hou (waar Canon produkte vervaardig word en waar pryse letterlik die helfde goedkoper is) betreë ek onverwags maar nie ontydig nie, die midde van die professionele fotograaf met hierdie nuwe outjie wat dan vir Old Faithful vervang:

“But wait, there’s more”…in die woorde van ‘n SABC “infomercial”. Ek het verkies om die middelmatige beginners “kit”-lens wat saam met die kamera verkoop word, te verruil vir ‘n intreëvlak professionele zoem lens:

Wonderbaar…ek is vandag ‘n dankbare man. Hopelik sal ‘n vaardige woordkunstenaar soos mykopop binnekort, en soos voorheen, die lof van die digitale prentjies deur hierdie speelgoed gemaak, besing!

Nou gaan die vonke spat. Of sal ek sê, die sluiter vlieg…



Algemene Kennis Vraag van die Week*: C E
Julie 7, 2008, 8:26 nm
Filed under: Goeters

Mens vind hierdie twee letters, in hierdie spesifieke lettertipe, op bykans alle toebehore. Van die battery in jou selfoon tot die bloedrukmeter in die hospitaal en die Wii Konsole in jou voorkamer. Selfs die blik-sigaretaansteker wat ek anderdag diep in Venda gekoop het pryk met ‘n netjies-gegrafeerde “C E”.

Waarvoor staan dit, en waar kom dit vandaan?

Die wenner van hierdie eerste AKVW* slaan 5 opeenvolgende terug-pienge (“pingbacks”) in die volgende 5 inskrywings op duskant sutherland los.



Ek stap vandag op Koos se pad…
Julie 2, 2008, 12:55 nm
Filed under: Gedigte

Ek maak net soos ek wil.

As my wrak tog kan loop
en die pad is oop
en die lewe lê alkant te koop
en ek’t ‘n rand of tien
en wie weet miskien
nog ‘n paar hier of daar
wie weet waar
dan vat ek die pad
na die bose ou stad
want hy’s grys en wys
en hy’s gou
en die naald bly dwaal
net so regs van nul
want ek maak net soos ek wil.

Ek’t ‘n jaar lank gewerk
as ‘n derde klerk
dis weer tyd om ‘n iets te geniet
want ‘n week se swoeg
maak my moedeloos moeg
en die tjek sê ook
als is verniet
toe breek ek maar weg
want die wêreld is reg
en ek’s eindelik klaar met die spul
en die naald bly dwaal
net so regs van nul
en ek maak net soos ek wil.

Daar’s ‘n ietsie te sê vir
min rykdom hê
want ‘n rand is soms soos ‘n fortuin
as die wiele rol en die tenk is vol
word die sorge agter jou klein
die vryheid is soet
die trap met jou voet
en die enjin word dromerig stil
want die naald bly dwaal
net so regs van nul
en jy maak net soos jy wil.

Koos du Plessis