duskant sutherland


Afkoeltyd vir Titus. Cheers ou grote.
November 30, 2007, 12:40 nm
Filed under: Gedagtes

mrfat1.jpg
Ashley Titus
1971 – 2007

“Hy was ’n larger than life-karakter…”
Ek stem saam…en Afrikaanse musiek gaan nooit weer heeltemal dieselfde wees nie.
Jy was BVK – en soveel meer. Hierdie een is op jou, Mr.F!

Advertisements


I believe (my Pc) can fly…
November 30, 2007, 11:16 vm
Filed under: Geite

Werk aan moeilike multimedia produksie.
Hele dag. Min tyd, dringend klaar. Moeg.
En dan…
“This program is not responding…”

image001.gif

Ek wil ‘n Appel hê…



Me, myself and I mean…
November 30, 2007, 10:47 vm
Filed under: Goeters

Skoorblok en Adam fors my hand om ‘n magiese 8 feite in die tag-spel te ontbloot. Wel ek is nie onsinnig nie en ek dink die feite is dalk nie so magies nie maar ja…Let wel ek is hoeka nie een wat kortpad kan praat nie…

1…My eerste (studente) kar was ‘n 1976 VW Passat Stasiewa, babablou met babablou gordyntjies agterin die “stasiebak” en ‘n klein waaiertjie op die dash. Sy naam was “Blouwalvis” en hy was legend. Ek het die Bosveld, die Laeveld (x3), Natalse Slagvelde (x2), Swaziland (x3), Maputaland, dele van die Vrystaat en die Wes-Transvaal plat ge-roadtrip met daardie kar (en hy was -behalwe vir ou oom Boors- op sy tyd die regular’ste regular by Oppikoppi). Die nouste ontkoming wat ek met die kar gehad het was in die Bulembu Pas in die hooglande van Noord-Swaziland (laat ek volstaan by die feit dat bier, smokes en ‘n lekkende brandstoftenk nie die ideale kombinasie in enige situasie is nie). Natuurlik was die gordyntjies ‘n bron van groot vermaak -in verskeie opsigte- en die lapswaaiers by die Universiteit het die kar later “Eadrêne” gedoop. Ek kon nooit agterkom hoekom nie tot die een ou vir my gesê het dat hulle eintlik “curtain” sê maar dat ek so bietjie verkeerd hoor…

2…Ek is die jongste van 5 kinders (en ter ere van my ma, die verskil in jare tussen my en my oudste broer is net meer as 6 1/2 jaar!). My broers het my altyd gespot en gesê ek was ‘n glipsie gewees. Dan het my ma die saak altyd beredder deur te sê “Maar hy is darem ‘n vrek oulike glipsie!”. 🙂

3…Ek het in matriek vir 4 rugbyspanne tegelykertyd gespeel ( spanne 3 – 7). Natuurlik nounie op dieselfde tydstip nie maar dit het nogal gebeur dat ek so 2 1/2 games op ‘n Saterdag sou speel en reserwe wees vir nog 2…

4…Ek het graad-gevang in Engels sonder om ‘n enkele bladsy van “The Mayor of Casterbridge”, “Heart of Darkness”, “Portrait of the Artist as a young Man” of “Canterbury Tales” te lees (al ooit gehoor van ‘n webwerf met die naam “Sparknotes”? 😉 ). Ek het wel my Norton Anthology of Poetry stukkend gelees…

5…Ek is ‘n musikant.

6…Ek is gek oor lees en ek is gek oor Afrikaans – een van daardie weirdo jongmense wat “Sewe dae by die Silbersteins” al seker 20 keer gelees het. My persoonlike rekord vir ‘n boek klaarlees is so bietjie minder as 2 dae – Kringe in ‘n Bos in Gr11.

7…Alhoewel verskeie mense, vriend of vyand, van my verskil, glo ek ek het ‘n uniek-genuanseerde sin vir humor. Sien vorige posts vir meer oor hierdie onderwerp…So gepraat van…Wat het die teesakkie geskreeu to hy in die water val? OOeeee ek gaan flou word!

8…Van al die meisies met wie ek al uitgegaan het, kweek slegs een haatgedagtes jeens my (die woord “haatgedagtes” hier ietwat litoties gebruik…). Skies, net ‘n oomblik, ek hoor iets by my venster…

passat1.jpg

sal ek dan noumaar die een wees wat die gedugte boerinballingskap tag…



Grap (#2)
November 21, 2007, 6:23 nm
Filed under: Grappe

bad.jpg



Lig
November 21, 2007, 9:53 vm
Filed under: Gedagtes

My oë is nat toe ek die boodskap ontvang: “Mama has gone to the Lake”. Ek stap terug die tyd in tot by die Berg waar ek haar besoek het – die Mokgoa wat by die ouvrou van die Berg skuil. Ek drentel tot by haar dood drie jaar terug…dwalend en rusteloos…soos haar woorde, ver eggo’s wat oor die Berg huiwer…’n gedagte van onthou:

“We bury the dead with a big ceremony. We bury them there on the Mountain near the big Fig tree. If they are from Nehamba’s* Royals they might be buried in the Sacred Forest where the White Lion guards the graves of their ancestors. Two or three years after a person passed and was buried he or she will come back in a dream to their family.”

Sy huiwer, daar is twyfel in haar geplooide oë en wantroue in haar stem. Sy vee senuweeagtig met haar hand oor die misvloer, asof sy ‘n beeld in die fyn tekstuur oproep. Sy kyk op na die swartgerookte grasdak van die hut en deur die benoude rook voel ek haar vrees aan. Die Kaptein knik gerustellend vir haar en die tolk vervat haar dialoog.

“A father will come back to his eldest son, a wife to her husband or children, and a child to his or her father. The dead will revisit the living because they have become impatient and want to go the residences of the ancestors in the Lake. They will leave strict orders as to their return to the Eternal Home. On the next day after the Dream the Hosi will summon the traditional Council and the family will consult with them on the deceased person’s wishes.”

Sy vra iets in die rigting van die Kaptein in die taal waarvan ek steeds nog net frases verstaan. Hy antwoord haar met ‘n kort “Hao”. Dan dink sy. Haar oë is vaag en haar mond bewe. Sy kyk stadig op terwyl sy met ‘n rokende stomp in die vuur karring.

“We will go to the grave and take out the bones, wrap it in the skin of a goat and take it down to the Sacred Lake. On the eastern side near the Bitterleaf Forest is a small river that runs into the Lake. When we get there we will celebrate, eat, drink and sing praise songs and lamentations. Then we will make a fire over the small river. The bones will be placed in the fire and as it is burns out, it will fall in the water. The water from the river will take the ashes to the Lake, to the place of the Ancestors. That night when we get home we will hear drums playing at the Lake…the children will be scared.”

Sy klink skielik weëmoedig….asof sy elke siel onthou wat die reis deur die rivier na die Meer onderneem het. Sy snik saggies, kop vooroor en arms slap. Amper onhoorbaar fluister sy iets aan die tolk.

“She says that she will not be talking anymore, she has already disclosed more that she wanted.”

Ek staan stadig op, neem haar hand en sê dankie in haar taal. Ek kniel eerbiedig by haar, die besef dat ek haar nie weer sal sien nie swaar in my binneste. Ek weet die tyd het gekom vir my – en haar – om te gaan. By die deur hoor ek sy prewel iets en dan skreeu sy dit gedemp uit. Sy kruip nader en gryp my hand, oumens pleitend maar ek, taal-naïef sonder verstaan. Sy herhaal haar woorde oor en oor, haar oë smeek, haar trane roep. Dan sak sy neer en gaan lê langs die vuur terwyl sy snaakse roggelgeluide maak. Die tolk fluister saggies by my oor:

“She says that you must come back to teach her children, teach them about life, because you have light in your eyes.” 

Hy glimlag dringend…

“You heard, Mokgoa? The old one says you have light in your eyes!”

Oppad buite-toe besef ek dat my oë traan – seker maar die rook in die bedompige hut…

Kort daarna is sy dood. Haar uitgeteerde lyf is by die Groot Vyeboom begrawe.

Ek het nooitweer daar gekom nie.

“Mama has gone to the Lake”.
My oë traan weer maar dis nie die rook nie.
Dis hààr trane, haar kinders s’n. Dis uitkoms wat sy gesoek het.
Iets groter en dieper as die Meer, die Fees, die Droom.

Lig.

lakef.jpg

*Skuilnaam



Vir ‘n Grande Dame
November 16, 2007, 3:26 nm
Filed under: Gedagtes

elizeb.jpg
Professor Elize Botha
1930 – 2007

Jy’t weggegaan en jy bewoon
‘n silwer herberg in die sneeu
jou venster kyk nog elke nag
met drie blink oë na die plein
die plein is boom en wind en boom
en wind en wind
en wintermiddag voer daar iemand
die meeue krummels teen die wind

(Afskeid – N.P van Wyk Louw)



Deon in die Dogbox
November 16, 2007, 11:13 vm
Filed under: Goeters

dmaas.jpg 

Deon Maas is gefire. Rapport het gister aan dié kontroversiële rubriekskrywer ‘n “dear Deon” briefie gegee en so ‘n kortstondige griffel-skrikbewind van twee weke beëindig. Julle het dalk ook die e-posse sms’e gekry…:

“…BOIKOT RAPPORT VOLGENDE SONDAG OOR “DEON MAAS SE ARTIKEL” DAT SATANISME ERKEN MOET WORD AS GODSDIENS…”

Tim du Plessis, sy goeie ou diplomatiese self, sê:

“Rapport en Maas is die afgelope week geteiken deur ‘n virale veldtog wat per e-pos en SMS gevoer is oor Maas se eerste rubriek voorverlede Sondag. Die rubriek was oor Satanisme. Rapport is verbind tot mediavryheid, die vrye uiting van menings en robuuste debat. Die georkestreerde boikotveldtog het egter die wese van die kwessie verander van een oor vrye meningsuiting na een oor kommersiële belang…”

Deon daarinteen voel verontreg:

“Ek het geen siening oor satanisme nie. Hierdie is een van die bes georkestreerde massamedia-veldtogte in living history. Jy moet jou hoed afhaal vir wie ook al die brein hieragter is.”

Kyk, ek stem nie altyd saam met wat die man sê nie en ek is doodseker dit is nie die eerste keer dat hy in die padgesteek word a.g.v sensitiewe-op-en-aanmerkings nie. Maar nou wonder ek, waar lê die grense van vryheid van spraak? Op watter punt moet ‘n mens notisie neem en werkmaak van ‘n saak…ons is nie dalk hier besig om aan ‘n baie dieper beginsel te karring nie (soos in die verlede met die Profeet Muhammed-spotprent geval in Europa nie)? En was dit nie bietjie drasties van die koerant om hom summier af te dank nie? Ek meen, mens stel defnitief nie vir Deon Maas aan om strelende voelgoed sinne te skryf nie – hy gaan noodwendig jou lesers uitdaag en uitlok. En moet ‘n koerant soos Rapport met sy kenmerkende identiteit nie juis die volwassenheid hê om met hierdie tipe van issues te deal nie?
Insgelyks, is die verenigde anti-Maas front dalk ‘n teken van ‘n korporatiewe sin vir reg en verkeerd?

zapiro04.jpg

Hoe dit ookal sy, Deon Maas het sy jis teëgekom – sy gat brand…en vir ‘n verandering is die kats in Christene se hande…