duskant sutherland


Seep in die Opera: “Ons vir Jou” en die ego’s van andere.
Oktober 17, 2008, 1:02 nm
Filed under: Goeters

‘n Paar maande gelede gesels Coenie de Villiers op die KykNet gespreksprogram Kwela met Deon Opperman,  bekroonde skrywer en vervaardiger, oor sy pas voltooide MBA. Een Opperman sin bly my by (en ek parafraseer): “Ek is ‘n harde werker, jy weet en het uitstekend in my MBA gevaar, ek is nie van daardie mense wat in koffiewinkels rondhang nie, ek het te veel ambisie en dryf omdat ek doelgerig is, ek kan lui mense nie verdra nie”. Wat my aan hierdie opmerking laat dink het, was ‘n ewe gewigtige verwysing na Mnr. Opperman en Sean Else se blyspel, “Ons vir Jou” waar eergenoemde op Carte Blanche oor die verhoogstuk verklaar het: “You know, it’s on the scale of Les Misérables – it’s big.”

Maskas né!

Nouja, Opperman se flagrante en duidelik genoegsame selfvertroue (lees: windgatgeit) daaraan toe, was ek -bietjie krities – ‘n indrukwekkende skouspel tewagte toe ek die afgelope naweek na die statige Staatsteater se Opera gaan om die laaste vertoning van bogenoemde musiekblyspel te gaan kyk. Dit, en die imposante agtergrondteks wat op die Packed House Productions-webwerf verskyn:

“Hier kom ‘n ding!  Eers was dit ‘n liedjie…nou is dit ‘n hele storie…’n groot storie met ‘n begroting van R4 miljoen…ONS VIR JOU – die eerste Boereoorlog musiekblyspel in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse teater geskryf deur Herzogprys-wenner Deon Opperman en Sean Else met musiek deur Johan Vorster…[ ]…en dis alles daar – die heldedade, die liefdesverhale, die slagvelde en natuurlik die aserowende musiek: solo’s, ballades, koorsang, de lot…[ ]…Met Rouel Beukes as Generaal Koos de la Rey, Michelle Botha as sy vrou, Nonnie de la Rey, Adrian Poulsen as De La Rey se seun, Adaan, Paul Lückhoff as Paul Kruger, Neels Coetzee as Siener van Rensburg, David Clatworthy as Lord Alfred Milner en Peter Taylor as Lord Methuen, om maar ‘n paar te noem…[ ]…Hulle het geskiedenis gemaak…nou maak ons dit weer.”

En ou oom Dan Roodt voeg ook sy stuiwer by wanneer hy groots verklaar: 
“…oortref dit lag-lag enige Broadway of West End-produksie.”

Maskas, sê ek weer. En dis nou net hier waar die opskrif van hierdie inskrywing ter sprake kom…Nie net bevat Ons vir Jou duidelik verskeie lae van betekenis nie, maar na my mening is die produksie met sy sewe-getal begroting ook iets van ‘n egomassering – maar later meer daaroor. Dit vertel die verhaal van liefde, heldemoed, opoffering en geloof, alles binne die konteks van die Anglo-Boereoorlog wat die Boererepublieke in die jare 1899 – 1902 geteister het. In sy diepste is Ons vir Jou ‘n sepie wat binne die konteks van hierdie bekende en emosie-belaaide geskiedenis afspeel. En dis nie ‘n slegte ding nie, inteendeel, ek hou daarvan dat ons “boerehelde” so bietjie vermenslik word deur te wys dat hulle ook maar deur die gewone aksies van dag-tot-dag bestaan gegaan het. Daarby sorg die stuk vir asemrowende verhoogtonele, uitstekende musiek en roerende momente – alles verpak in ‘n uiters professionele en verbruikersvriendelike blyspel.

Maar op verskeie vlakke is dit ‘n produksie van teenstellings en ongebalanseerde rolmaal. Juis in terme van rolverdeling oorskadu Rouel Beukes se ongelooflike vertolking van Koos de la Rey die ander akteurs en laat hy hulle na die tipiese 7de Laan Oppiekoffie-kelner-akteurs lyk. Daarby laat sy sang bv. dié van De la Rey se seun Adam (Adrian Poulsen) en trawante, soos boyband sangers klink en word ‘n mens weereens bewus van die belangrikheid van kontinïuteit in stemverdelings. Dit is dan onafwendbaar dat die verhoogstuk duidelik veels te swaar op Beukes leun om die karakterdinamiek aan die gang te hou en meer as een maal het ek die gevoel gekry dat ek na ‘n eenman-stuk kyk.

Foto: Packed House Productions

Die musiek en orkestrasie is uitstekend en duursaam. Daar is wel ‘n paar “filler” items wat dit duidelik nie buite die veilige skanse van “De la Rey” en “Ons vir Jou” se populariteit sal maak nie. Hierdie items, wat ek sommer “kontinïuteitsitems” noem, sowel as die nuwe Steve Hofmeyer en Bok van Blerk treffer “Pa en Seun”, wat deur Genl. De la Rey (Beukes) gesing word, sneuwel grootliks aan die hand van geforseerde, nikseggende, paargerymde lirieke. En dit is jammer, want hierdie items staan in skrille kontras met hoendervel-oomblikke waar die majestueuse orkesmusiek rondom jou en binne jou bulder.

In onlangse resensies was verskeie geskiedenispuriste omgekrap oor “verdraaide feite” in die storielyn en veral die stukkie fiksie wat rondom die dood van Adam, Genl. De la Rey se seun, bygewerk is het die wenkbroue gelig. Ek vermoed dat hierdie kritiek ongegrond is omdat daar geensins gesuggereer word dat Ons vir Jou ‘n dokumentêr is nie. Inteendeel, die storielyn bevat, soos reeds gesê, al die bestandele van ‘n deursnee sepie met voorspelbare wendings en ‘n paar nat-sneusdoekie oomblikke. Tog is daar ‘n paar slim karaktertoepassings in die storielyn, soos Siener van Rensburg (gespeel deur Neels Coetzee) wat aan die begin ‘n treffende verband tussen verlede en hede trek deur die gehoor direk aan te spreek met die woorde:

“Ek sien julle . . . hier waar julle sit, honderd jaar van waar ek nou sit . . . en julle het klaar gesien wat ek gesien het . . . wat ek self nie wou glo toe ek dit gesien het nie . . . ’n volk gedruk tot die randjie van ’n afgrond . . . ”

Nouja, terug dan na die titel van hierdie inskrywing…Ek het Ons vir Jou geniet, alhoewel ek geensins kan oordryf deur dit te vergelyk met ‘n produksie soos Les Misérables nie. Inteendeel, so ‘n analogie is verwaand en kom myns insiens, neer op ‘n ego-defensief waar Opperman en kie die waarde van hierdie produksie dalk klein bietjie oorskat het en propaganda vir die stuk daarvolgens aangepak is. Wat ek eintlik sê is dat daar ‘n laaste teenstelling lê in die vervaardiger se grootheidsoortuiging van sy produksie, en dit wat op die verhoog materialiseer.

Ons vir Jou is aan te bevele. Dit is heerlike vermaak wat trots Suid-Afrikaans en trots Afrikaans uitrys bo oppervlakkige politieke ondertone en geïmpliseerde boodskappe, om ‘n mooi storie te vertel. Dit gee op waardige, maar soms onderbenutte wyse gestalte aan ‘n seer stukkie geskiedenis wat vir elkeen van ons iets beteken. Doen gerus moeite met hierdie een…

Advertisements