duskant sutherland


Arton Villa se geraamtes
Desember 15, 2007, 10:37 nm
Filed under: Kiekies

Ek is terug na ‘n paar dae in Limpopo. Eergister het ek ‘n tydjie vry toe gaan ry ek die patrolliepad langs die grens en net anderkant Musina kom ek toe af op Arton Villa, ‘n vamelewe weermagbasis wat ‘n paar jaar terug ontruim is. Fassinerende plek met ‘n ongelooflike atmosfeer -en hartseer…die batiljonwapen geverf by die ingang, die barakke met elke bed nog ‘n nommer gespuitverf bo die koppenent, die geboue soos kadawers in die Limpopo se skelgroen….

img_1127_0a.jpg

img_1138_0b.jpg

img_1141_0c.jpg

img_1131_0d.jpg

In die hitte gaan sit ek op ‘n stuk gruis wat eens op ‘n tyd die paradegrond moes gewees het. Ek sit lank daar in die stilte en laat my gedagtes gaan.

Ek dink aan al die troepe wat hier bloed gesweet het. Al die ouens, nognie eens heeltemal man nie, wat hier die lewe se lanfer kom leer ken het. In my gedagtes sien ek ‘n jong man by die barakke se deur teen die muur leun en senuweeagtig aan ‘n sigaret teug – die onsekerheid en ontkende vrees diep groewe langs sy oë.  Ek hoor ‘n luidrugtige gelag en gefluit van agter die amfiteater aanrol. In my hart sien ek vir Troep Nommer 1 in sy bed waar hy laataand ‘n brief vir sy meisie skryf waar hy haar verlang…

Ek dink aan hoe romanties die idee van diensplig vir my as klein seuntjie was…hoe ek met bewondering na die ge-uniformde manne gekyk het wat duimgooi by daardie armyman-borde langs die hoofwee. Ek onthou hoe ons gereeld gehoor het dat minder troepe op die grens sterf as op die nasionale paaie wanneer hulle huiswaarts keer, en ek hoor “Troepie Doepie” en “Hang ‘n duisend liggies”…die onrustige opgewondenheid wat al hierdie dinge in my wakker gemaak het – “Ons Vir Jou Suid-Afrika” in woord en daad!

Ek dink aan  daardie ‘n graf in Oudtshoorn naby waar my Oupa lê; ‘n klein marmerbeeldjie van ‘n vegtende soldaat. My pa het my vertel dat die troep op die grens in ‘n kontaksituasie dood is en dat sy lyk terug gestuur is in ‘n verseelde loodkis met die opdrag dat niemand dit mag oopmaak nie. Sy ma wou glo verskriklik graag na die oorskot kyk maar sy is ten alle koste verhoed en sy het haarself letterlik doodgetreur.

Ek onthou hoe dit my ontstel het om te dink dat daar dalk net ‘n emmer grond uit Angola se aarde in die kis kon wees…of dalk net ‘n hand. En dat die ou tannie nooit sou weet nie…

Toe ek by Arton Villa wegry kom hierdie song van BMRO by my op:

DIE GERAAMTES IN JOU KAS

‘n Hand kom deur jou venster
en jou gloeilamp is ‘n oog wat loer,
jou plafon bult in van bo af
en naels krap van onder jou vloer…
want jy weet, jy weet:
die geraamtes in jou kas het begin kriewel

Die klere vroetel rond in jou trommel
en jou stewels dans in die kas
jou rugsak het begin oopgaan
en grynslag saam met jou jas…
want jy weet, jy weet:
die geraamtes in jou kas het begin kriewel,

Jy onthou die stof
van ‘n township se strate
en die haat in die oë
aan die end van jou geweer…
want jy weet, jy weet:
die geraamtes in jou kas het begin kriewel,

Jy onthou die vure
en die wiele van ‘n Casspir
en die reuk van brandende rubber
deur die neus van jou gasmasker…
want jy weet, jy weet:
die geraamtes in jou kas het begin kriewel,

So, trek jou hoed oor jou oë
vir Sharpeville en vir Ventersdorp
en swaai aan jou droom
sodat jou skoene nooit nat word
van die modder op die grond
hier en daar gemeng met bloed…
want jy weet, jy weet:
die geraamtes in jou kas sal aanhou kriewel,
die geraamtes in jou kas sal ewig kriewel.

img_1149_002d.jpg