duskant sutherland


Mpho en Mphonyana
Oktober 31, 2007, 9:33 vm
Filed under: Gedagtes

Onthou jy nog vir Mpho en Mphonyana? Die Siamese tweeling wat in 1986 gebore is en later in ‘n marathon operasie geskei is. Die twee sussies se reis in en uit hospitale, trustfondse en spesiale skole het die verbeelding aangegryp, ek onthou nog hoe is daar by ons laerskool geld ingesamel vir die operasie. Die sussies het selfs die “Suid-Afrikaanse Panorama” – die oorwegend Afrikaner maandblad gehaal met fotos waar wyle Presidentsvrou Elize Botha hulle vashou en troos. 
En die hele land was geskok en hartseer toe Mphonyana, wat na die skeidingsoperasie nooit werklik herstel het nie, in 1990 gesterf het. So is daar destyds oor haar dood berig:

Mphonyana ‘gaan nou rus’

Beeld 14 Junie 1990 
KLERKSDORP. – ”My hart is seer oor Mphonyana, maar dit is beter. Sy
gaan nou rus . . .”
Met dié woorde het ‘n bedroefde mej. Sophie Mathibela, ma van
Klerksdorp se beroemde Siamese tweeling, haar gister berus in die
dood van Mphonyana, wat sowat twee jaar gelede van haar sussie, Mpho,
geskei is.
Mphonyana (3) is gisteroggend omstreeks kort voor sewe in die
Tshepong-Hospitaal op die dorp dood waar sy en Mpho sowat drie jaar
gelede as ‘n Siamese tweeling gebore is. Sy het longontsteking gehad.
Dié Siamese tweeling is in Mei 1988 in ‘n opsienbarende operasie
in die Baragwanath-Hospitaal in Soweto geskei. Dit is gedoen deur ‘n
span dokters onder leiding van prof. Robert Lipschitz.
Ná die operasie het Mpho tot ‘n normale driejarige meisietjie
ontwikkel. Mphonyana se ontwikkeling het op drie maande vasgesteek.
Sy was doof, stom en blind. Sy was ná hul ontslag heeltyds in die
Tshepong-Hospitaal terwyl die woelige Mpho by ma Sophie in haar huis
gewoon het.
Volgens dr. Louw du Toit, superintendent van die Klerksdorpse
Hospitaal, het Mphonyana se toestand gaandeweg verswak. ”In die
laaste paar maande het haar fisieke toestand verswak ondanks terapie
en volgehoue behandeling.
”Sedert Maandag was sy koorsig en het sy longontsteking
opgedoen,” het dr. Du Toit gesê.
Volgens mej. Mathibela was Mpho eergisteraand, voor Mphonyana se
dood, huilerig en siek. ”Sy wou ook nie eet nie. Ek dink sy het
geweet Mphonyana is nie gesond nie. Sy het só gehuil, maar sy is nou
beter. Sy weet Mphonyana sal nooit weer terugkom nie . . .”

Gister is Mpho, wat verstandelik gestremd is, vir haar 21e verjaardag bederf met ‘n besoek aan Madiba.

20071030203512mphomadiba.jpg

Ek kan nie help om so ‘n hartseer gevoel in my hart te kry as ek aan hierdie twee mense dink nie. Die gestermde Mpho en haar afgestorwe sussie Mphonyana was in eie reg van die eerste ware nasiebouers. Baanbrekers wat ‘n stukkende land byeengebring het deur tot die grein van elkeen se basiese menslikheid te spreek.
Veels geluk julle, well done.

Advertisements