Filed under: Geite
Ahhh, tog so inherent in onse Volksharte ingeprent die vrees vir die vreemde, die onbekende en die onverklaarbare. En snaaks, vermoed ek, hoe iets soos ‘n diepgewortelde rassisme en meerderwaardigheid telkemale ontstaan vanuit ‘n vrees vir iets vreemd.
Ek drentel gister rond in ‘n groot boekwinkel in Pretoria, opsoek na ‘n vakspesifieke argeologieboek. Ek vind hom agter ‘n klomp Gr.12 handboeke en gaan betaal. Toe die ouerige dame die boek sien helder haar gesig op en vra sy in ‘n hoë en vermaaklike stemmetjie: “Oooooeee, as jy van argeologie hou, het jy seker al die boek ‘Adam’s Calendar’ gelees…”. Ek kan sien dat sy my nou hier geweldig wil beïndruk…
Adam’s Calendar. Suggggg. Ek dink terug aan ‘n paar gesprekke wat ek daar by mykopop gehad het oor einste hierdie boek.

Hier word verwys na ‘n koffietafelboek waarin Michael Tellinger en Johan Heine aanspraak maak daarop dat hulle die oudste mensgemaakte struktuur ontdek het. Daarby verskaf hulle fantastiese interpretasies en verduidelikings vir hierdie klipbouval, geleë in op die Platorand in Mpumalanga. Hulle verklaar oortuigend:
“This remarkable stone structure was originally a large circular structure resembling but predating Stonehenge by many thousands of years. Adam’s calendar is built along the same longitudinal line as Great Zimbabwe and the Great Pyramid. It is also aligned with the rise of Orion’s belt when it rose horizontally on the horizon some 75,000 years ago. Adam’s calendar takes us further back in time closer to the emergence of Homo sapiens, than any other structure ever found to date, and it will force historians and archaeologist to reconsider ancient human activity and consciousness.”
Hulle verklaar voorts dat hierdie “kalender” nie deur plaaslike groepe gebou is nie, maar deur Indo-Afrikane wat vanuit die Indiese vasteland na die ooskus van Afrika gereis het en verskeie monumente gebou het.
Ek staar die dame aan, en toe ek nie dadelik reageer nie draf sy skuifel-skuifel na die naaste rak en pluk ‘n eksemplaar nader. “Kyk, dis die oudste mensgemaakte strukture! Hier, in Suid-Afrika !”. Ek staar maar steeds terwyl sy omtrent die hele boek op maat van ‘n meta-narratief deurwerk. Toe sy klaar is, probeer ek haar rustig daarvan oortuig dat hierdie boek in snert-waarde ten hemele skrei. Ek noem aan haar die gebrek aan argeologiese bewyse, die uiters verdagte pseudo-denkrigtings waarop dit gebaseer is. Ek vertel vir haar dat die boek as uiters problematies binne Suid-Afrikaanse argeologie bestempel word. Sy vervies vir haar net daar en skud haar kop beslis…”Nee, julle wetenskaplikes het altyd een of ander ding te sê oor alles. Wat is fout met Indo-Afrikane? En hoekom mag ons nie ook ons eie Stone Henge hier in Afrika hê?”.
Net daar draai ek om en loop.
Ek was nie lus om haar te probeer oortuig dat ons verskeie “Stone Henges” het wat oor die Suid-Afrikaanse landskap versprei lê, maar dat sy heel moontlik te dom is om dit raak te sien nie. Ek is nie lus om haar persepsie dat wêreldkulture eerder as plaaslike groepe, vir die bou van meer omvattende bouvalle verantwoordelik was, te probeer verander nie. Ek is nie lus om haar daarop te wys dat Eurosentriese denkrigtings nie in Afrika toegepas kan word nie. En ek is ook nie lus om aan haar te illustreer presies hoè oningelig sy is vir iemand wat in ‘n groot boekwinkel werk nie.

BaKoni beeskraal c.1800 (Mpumalanga)
Want inherent en diepgewortel bestaan die persepsie dat swart mense nutteloos is, mos altoos, en ek as individu kan dit nie op ‘n mooi Woensdag in Pretoria se middestad verander nie. Die uiters verwaande publikasie wat die outeurs so nonchalant “Adam’s Calendar” noem is vir my ‘n mooi en sprekende voorbeeld hiervan. Dit herinner aan argaïese interpretasies van Groot Zimbabwe waar die bou van hierdie Karanga-Stad toegeskryf is aan die werk van die Foenesiers, Egiptenare en selfs die Koning van Skeba. ‘n Toeskrywing wat min of meer verklaar dat swart mense en plaaslike bevolkings nie in staat is tot hoër kognitiewe en simboliese denke nie. Veel eerder word daar aanspraak gemaak op ongefundeerde alternatiewe interpretasies en in die proses word data vanuit gesaghebbende bronne soos argeologie gemaklik misgekyk.
En, terwyl die verkrampte oningeligtes die soetkoek koorsagtig verorber ten einde hulle eie onsekerhede en vrese te verbloem, lag die pseudo-wetenskaplikes al die pad bank toe. Jis, ek wens mense wil leer lees. En leer dink. Want die lewe is soveel interessanter sonder destruktiewe persepsies.
Maar ek dink partykeer persepsies en populêre menings is soos Bob Mugabe; net die Liewe Here kan dit verwyder…

9 Kommentaar sover
Lewer kommentaar
<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <pre> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>
Lekker naweek vir jou!
Comment deur meermin Januarie 30, 2009 @ 5:14 vmAdam’s Calendar….nog ‘n groter sug. Dit hoort onder: sprokies, uit my duim gesuig en fiksie. Wat ‘n pot snot.
Maar dat iemand bereid was om dit uit te gee was nie-fiksie, dit maak my bang van die oordeel van ons uitgewers.
Jy stel dit goed: dan mense tog net wil leer lees en dink. pseudo-wetenskap is ons grootste gevaar vir behoorlike denke.
Comment deur rosalindfranklin Januarie 31, 2009 @ 1:10 nmKoningin van Skeba was swart – net so terloops
Comment deur prayerweb Januarie 31, 2009 @ 8:10 nm@ meermin – dankie baie, selle daardie kant!
@ rosa – praat jy nou daar waar!
@ prayerweb – baie welkom hier, hoop om jou nog baie hier te sien!
Comment deur duskant Januarie 31, 2009 @ 8:51 nmPoint taken, maar swart? Baie Midde-Oosterlinge se velle is swart gepigmenteer…so ook plaaslike groepe in Suid-Amerika, Aboriginies ens ens. Die kwessie is nie ‘n swart voorkoms nie, maar ‘n plaaslike argeologiese landskap wat van eienaarskap ontneem word.
Volgende gaan sy vir jou verwys na Michael Baigent se “Ancient Traces” as wetenskaplike gesag vir die bestaan van Aliens! Maar een ding moet mens die pseudo-wetenskap krediet gee: mense lees dit, en hulle maak bossies geld. Dit is net jammer dat mense nie verder lees nie, of self so bietjie ondersoek gaan instel. Ek dink ‘n goeie skeptiese oog oor die meeste dinge is nodig.
Vrees vir die vreemde, inderdaad!
Comment deur Emil February 2, 2009 @ 6:41 vmOns was almal eens swart, watwou nog ant Skeba..!
Comment deur rosalindfranklin February 2, 2009 @ 8:24 nmDankie, great post. Ek is een van die mense wat nie die nodige opleiding het om te kan onderskei tussen feit en fiksie wat antropologie aanbetref nie (wel, nie altyd nie…as ‘n storie baie sleg aanmekaargeslaan is of blatant feite manipuleer, behoort ek dit agter te kom…but i digress). Sulke posts is broodnodig.
Sonder dat jy dit weet, het jy seminale kennis in ‘n paar bloggers se koppe gesit, wat dit om die beurt gaan oorvertel ad nauseum. Wie weet, miskien is daar môre 20 ander mense wat vir tannies in boekwinkels vertel watter nonsens Adam’s Calender is
Comment deur Johan Swarts February 2, 2009 @ 8:36 nmSien daar is ook nie eintlik meer dinge soos verlore stede nie, wat buite die raamwerk val van bestaande beskawings wat reeds bekend is nie.Die migrasie van mense is redelik bekend.
En as mense eers die Egiptenare, sterrekunde en hoe dit mooi lyne vorm met iets, en ‘n bekende bevolking wat baie ver migreer het en toe iets anders loop bou het met mekaar meng, dan moet jy weet: gemors.
Dit is net soos wat mense nie wil glo dat die wieg van die mensdom in Afrika is nie, nee toggie, dit moet mos europa wees..LOL.
Comment deur rosalindfranklin February 3, 2009 @ 12:19 nmDankie, dit was interessant. Ek het nou weer die ‘gesprekke’ by Mykopop gaan lees. Daai tyd het dit my nie baie geskeel wie wat gebou het nie.

Comment deur boendoe February 9, 2009 @ 11:38 vmEk moet bieg, ek het die laaste ruk ook begin wonder/dink of ons ou ‘plaaslike groepe’ regtig tot enigiets in staat was.
Maar, danksy jou, is ek weer (soort van) op die regte pad.