duskant sutherland


A Long Walk to Freedom?
Oktober 8, 2008, 12:05 nm
Filed under: Gedagtes

 



Oor heling en kruie en dood.
Oktober 8, 2008, 10:20 vm
Filed under: Gedagtes

Ry ek rustig vanoggend, met ‘n lied op die radio en ‘n tune in my hart deur die Jakarandastrate – die Karoo se mooi en stil van verledeweek nog vlak in my. By ‘n verkeerslig hier naby die Varsity is daar oudergewoonte ‘n hele samekoms verkopers van roof DVD’s, handsakke en houtgekerfde bidkralestringe (dis altyd vir my die mees-random item om op ‘n straathoek te verkoop). ‘n Kaalvoet seuntjie met witgeverfde gesig voer danspassies uit en vermaak die motoriste in die hoop op ‘n appel of sent. Natuurlik hang daar ook ‘n paar “flyer-tryers” rond wat aan jou inligtingstukkies en voubuljette gee wat enigeiets van nuwe sekuriteitskompleksontwikkelings tot goedkoop kardienste adverteer. My hart is gewoonlik maar sag en in die geloof dat dit die minste is wat ek kan doen vir iemand wat ten minste probeer werk, neem ek altyd die “flyers”. En dis toe nou presies hoe die volgende outjie vanoggend daar by die verkeerslig in my hand beland:

Breed glimlag ek toe net daar en oombliklik kom die gedagte by my op: slegs in Suid-Afrika…

Slegs in Suid-Afrika praktiseer daar “medici” wat jou kan help met ‘n reeks probleme wat wissel van toordery, liefdesprobleme, erektiele disfunksie, rykdom en swak verhoudinge. Dis ook slegs hier waar mens te hore kom van organisasies soos die “Eastern Africa (Zanzibar) and South America Herbalist Control Coucil” en die “Litiko Le Tinyanga for Africa and Botswana Dingaka Association”.  En al is dit als vir alle praktiese doeleindes uiters verdenklik, is hierdie so uniek soos Sauerkraut in Germanië. And you’ve got to appreciate it!

Maar dan lees ek ook verlede week hierdie berig, oor 13 lede van ‘n gesin in Kwazulu-Natal wat gesterf het nadat hulle ‘n kruie-konkoksie deur die lyf gejaag is deur ‘n 15 jarige “leerling tradisionele geneser”. En dit laat jou wonder…wat maak dat 13 mense met gesonde verstand ‘n onbekende brousel drink op aandrang van ‘n 15 jarige?

Die antwoord op daardie vraag vind mens sonder moeite op Dr. Masterson se advertensie hierbo – en dit kan goed opgesom word met ‘n enkele woord: suggestie. Nousamehangend met hierdie suggestie ook natuurlik dan vrees waar meeste van O.K se spesialiteite bv. hierdie emosie by die toehoorder sal wek.

Dan besef ‘n mens hoe tragies die dood van daardie familie werklik is, en hoe magtig die werking van vrees kan wees in die bestaan van onkundiges, gewones en gewondes.

Skielik is O.K Masterson en sy praktyk nie meer vir my so snaaks nie.