Filed under: Gedagtes
Baie is al gesê oor Angus Buchan se bediening en sy onkonvensionele benaderings tot geloof, God en sending. Die opspraakwekkende Mighty Men saamtrek het baie laat glo dat herlewing in Suid-Afrika uitgebreek het en op ‘n nasionale vlak is kaartjies vir saamtrekke waarby Buchan betrokke is telkemale uitverkoop. Soos teverwagte was die kritiek netso fel soos die aanmanings wat Buchan sonder skroom proklameer oor die manne, vroue en gesinne van Suid-Afrika.
In ‘n interessante en geweldig insiggewende inskrywing deur Johan Swarts lig hy weereens ‘n paar kwessies oor Buchan toe wat defnitief as stof tot nadenke dien.
Sonder om te veel soos ‘n Angus-apologeet te klink wil ek graag hier sommer padlangs gesels oor van die brandpuntvrae wat by ouens soos Johan rondom Buchan en die Mighty Men beweging ontstaan het. Die feit dat ek hierdie inskrywing “‘n altwernatiewe perspektief” noem impliseer noodwendig dat hier sterk steun op ‘n interpretasie van Bybelse beginsels.
Die kwessie van die “manne bediening” is gewoonlik ter sprake wanneer Buchan ter sprake is. Waarom net manne? Ek dink ‘n mens moet oppas om nie hier die fout te maak en af te lei dat hierdie beweging uitsluitlik met manne en vir manne is nie. Op ‘n ander maar gelyksoortige platform het die Ester en Hadassa Nasionale Vrouekonferensies, aangebied deur die N.G Gemeente Moreletapark in Pretoria, glo die afgelope jare meer as 50 000 vroue betrek en is herlewing vanuit hierdie oord reeds voor Buchan aangevuur. Maar waarom dan “aparte” geleënthede vir die twee geslagte? Na my mening is hierdie apartheid ‘n simptoom van ons tyd, manne en vroue se ervarings (en verstaan) van die geestelike verskil radikaal as gevolg van historiese komplikasies en dit kan op groei-vlak inhiberend op mekaar kan inwerk. Laat ek verduidelik. Faktore soos die Broederbond, regstellende aksie en elemente van die feminisme het die man histories in vele opsigte gestroop van sy gebalanseerde posisie binne die gesin en die samelewing. Buchan maak geen geheim daarvan dat hy dit ten doel stel om hierdie ekwilibrium te help herstel nie, en hierdie is ‘n herstelproses wat aanvanklik by elke man individueel moet plaasvind voodat dit na die groter omgewing van sy vrou en gesin kan uitkring. Ingelyks bestaan daar by baie vroue dieper emosionele letsels, pyn en hartseer wat aanvanklik op wyses herstel moet word wat mans dalk nie noodwendig gaan verstaan nie. Tog, eendag wanneer die manne en vroue op hierdie pad van unieke herstel geplaas is, gaan dit nie meer nodig wees vir hierdie aparte geestelike gemeensaamheid nie, so glo ek.
‘n Ander punt van kritiek teenoor Buchan is dat hy onverantwoordelike en ontoetsbare uitsprake maak oor verskeie onderwerpe. Buchan proklameer byvoorbeeld gereeld dat Suid-Afrika homself midde in ‘n verreikende herlewing bevind en dat die land herstel gaan word op verskeie vlakke – dit terwyl ‘n Guirreliaoorlog woed en ons op die rand van ‘n noodtoestand wankel. Binne ‘n geestelike perspektief* (en sonder om op die ou “the-devil-made-me do-it” bandwagon te spring) kan daar dalk juis ‘n element van ironie in bogenoemde kritiek binne die konteks van huidige gebeure wees…oorweeg die volgende: Is die huidige konflik nie dalk juis ‘n bevestiging (lees: “positiewe toets”) dat Buchan se sg. onverantwoordelike uitsprake (bygesê, ook die uitsprake van ‘n ongekende massas) inderdaad waar is en dat ‘n vyand wat Suid-Afrika in puin wil sien op die oorlogspad is nie?
Daar word ook vrae gevra oor Angus Buchan as geloofsgeneser en betrokke insentiewe, soos om te preek vir toegansfooie. Hier is Buchan al vergelyk met T.B Josua, Benny Hinn en Reinhardt Bonke. Nouja, sover bekend is geloofsgenesing slegs een van die Gawes van die Gees waarop Buchan, soos enige ander Christen te doen staan, hom sporadies beroep…Daarinteen is die sukses en omvang van Hinn, Josua en Bonke se werk juis gebaseer op ‘n belangrike insentief: genesing…Hinn et al beloof die wonderwerk van (kits)genesing…die miljoene betaal dollars om te deel daarin. Vir Buchan is geldelike insentiewe blykbaar slegs ‘n logistiese hulpmiddel waar nodig; as Loftus huur vra, gaan iemand dit moet betaal…
Soos reeds elders op blogs genoem, sê ek graag waarom ek dink Buchan met soveel outoriteit en impak praat en waarom soveel mense by hom aanklank vind. Angus Buchan is nognie deur teologie en filosofie besoedel nie…hy praat vanuit persoonlike ervarings en ‘n persoonlike verhouding. Ek dink die gewone, soekende ou op die straat het ‘n versadigingspunt bereik in terme van denominasionele teologieë.
Mense is gatvol. Hulle wil kookkos eet, nie meer Macdonald’s nie.
* Bv. EFESIËRS 6:12 Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.
Filed under: Gedagtes
Paniek bevange
Mense hardloop rond
“veg vir julle lewens”
“jy’s slegter as die grond”
Blanke skaamte
Jy dink nie wat jy doen
Wie gee jou die reg
Om ander te verdoem
Veg saam teen haat
Veg saam teen onregverdigheid
Staan saam teen mensgemaakte institusies
Dis in jou weefsel ingeweef, jy gee nie om hoe ander leef
Die fokus is op haat alleen
Hou op met dit wat jy doen, jy breek af aan alles wat ons versoen
Sit jou trots eenkant en kom ons loop hand aan hand
Veg saam teen haat
Veg saam teen onregverdigheid
Staan saam teen mensgemaakte institusies
- Straatligkinders
Apartheid (lees xenofobie) Suid-Afrika 2008, hoe hard veg jy teen haat?
Filed under: Gedagtes
Miracles are a retelling in small letters of the very same story which is written across the whole world in letters too large for some of us to see. - C.S Lewis
Johan, Bertus, Johannes, ekself en sommer almal anders wat gereeld oor Angus, aartappels, Xenofobie en wonderwerke dink…
- sê nou daar is iets soos wonderwerke?
- sê nou daar is iets soos ware profesieë?
- sê nou Buchan is in die kol met elke stukkie lering wat hy gee?
- sê nou daar is ‘n landwye (Christen) herlewing aan die gang in Suid-Afrika?
- sê nou Pastoor H van Pretoria is reg wanneer hy sê dat die geweld in Suid-Afrika ‘n poging is deur die Bose om die herlewing te stuit?
- sê nou daar is ‘n eindtyd soos deur Openbaring beskryf?
- sê nou ons leef in die laaste jare van hierdie eindtyd?
- sê nou God is in beheer en dat Hy sal oorwin?
Wat dan?
Filed under: Goeters
Gepraat van die antie wat vir Sunette Bridges die duiwel wou gaan haal, Da Mario het onlangs nogal ‘n vermaaklike inskrywing geplaas oor maniere waarop ‘n nie-belangstellende ou ‘n belangstellende meisie die hasepad kan laat kies. Dit het my onwillekeurig laat dink aan die keer toe ek teen die spoed van ‘n diareemaag die hasepad gekies het…
Ek het saam met haar geswot, ‘n oulike meisie wat min of meer al die regte weë bewandel het. Hardwerkend, pligsgetrou en dan ook glad nie onaansienlik nie. Sy het dit nie maklik gehad nie en sy en haar boetie het by haar enkel-ma, ‘n geestelike berader en ultra-charismatiese Christen, gewoon. Soos die klas van ding maar werk begin ek toe al meer daar by haar aan huis kuier. Ek help kar regmaak. Ek ry boetie rond. Ek help rekenaar regmaak. Ek neem die honde veearts toe. En so tussendeur dra die tannie koppies koffie aan asof haar hand aan die skinkbord vasgegom is. Maar van die begin af was daar iets aan die tannie wat my gepla het.
Gereeld sou sy vir haar kinders (en later sommer vir my!) goed sê soos:
“Ek dink nie jy moet vanaand uitgaan nie, die Here het vir my gewys dat daar gevaar wag.”
of
“Ons sal weer die kar moet salf dan sy hy nie so baie breek nie.”
of
“Die Here het my gewys dat daar onheil wag as jy uittrek na ‘n woonstel”
Ek het maar so gemaak of ek nie hierdie dinge hoor nie en uitgehelp waar ek kon. Dit was ook nie dekades nie of ek besef dat ’n goeie ou vonk tussen my en die dogter afwesig blyk te wees ….dalk die gevolg van ‘n ander meisie waar ek toe begin kuier het :-) .
Maar toe straaik die spreekwoordelike pôpo die fên. Die tannie stuur vir my ‘n boodskap saam met haar dogter dat ek dringend die betrokke Vrydagaand “daar by hulle” moet kom kuier. Goedopgevoede seun wat ek is praat ek nie teë nie en die aand sit ek af daar na hulle toe. Die eerste onraad wat ek bemerk is toe ek sien dat die tannie alleen tuis is en dat sy die sitkamerligte so bietjie “gedim” het. Vra ek waar die ander is, bly die tannie stil en wink dat ek moet sit. Sy gaan sit reg oorkant my, kyk my stip in die oë en vra: “Kuier jy op die oomblik by ‘n ander meisie?” Ek is uit die veld geslaan maar ook oombliklik vererg, dit het immers niks met haar te doen nie. Toe ek nie antwoord nie staan sy op, plaas haar hande op my slape en in ‘n rukkerige stem bid sy vir bevryding van “ander meisies se bindinge”. Sy roep hard “amen!” en gaan sit weer oorkant my. Sy haal diep asem en verklaar:
“Die Here het vir my Woord gegee dat jy en Karin* gaan trou. Jy is haar trouman. Ek het Woord gekry”.
O bliksem.
My mond gaan oop en al wat tussen my en die aller-vreeslikste belediging staan is ’n goeie Calvinistiese opvoeding. Voor ek iets kan sê spring die tannie my voor: “jy sal sien, jy gaan van nou-af anders na meisies kyk…”. Dis sover soos sy gekom het.
Ek het nie eens gegroet nie.
* skuilnaam (anders sou ek my dalk nou in ‘n “witness protection program” bevind het…)
Filed under: Geite
Die vermoeë van onse Zuid-Afrikaanse mediamasjien om in tye van donker ‘n gesofistikeerde balans in die gepubliseerde nuus te handhaaf het my in die verlede al verstom. By uitstek is hierdie einste vaardigheid weereens sigbaar wanneer ‘n mens redaksioneel na pasafgelope Woensdag se Griffel van die Volk kyk:
Voorblad:

Bladsy 3:
Bladsy 6:
Ja nee kyk, so word die hooftrekke seker maar by wyse van nuuswaardigheid geplaas…ek meen dis mos net teverwagte dat ‘n berig oor Sunette (vry-my-of-ek-prosedeer) Bridges baie belangriker is as minder-nuus soos die Guirelliaoorlog in ons land. En dan ook ooreenkomstig geplaas…
Baanbrekerjoernalistiek.
So gepraat van, vir die van julle wat brand om te weet wat Bridges so pragtig in maagdelike rooi op bladsy 3 maak, hier is die juweeltjie wat jou na snesies sal laat gryp:
“As ’n mens nie hoendervel kry en deernis het met die sangeres Sunette Bridges (37) nie, is jy nie ’n mens nie. Dít was deel van die slotbetoog deur Bridges se regsverteenwoordiger, adv. Chris Erasmus SC, gister in die Pretoriase hooggeregshof. Regter Joseph Raulinga het uitspraak voorbehou in dié skadevergoedingseis van Bridges teen haar voormalige verloofde, mnr. Deon (Skip) van Jaarsveld, ’n boer van Patensie. Bridges eis R678 203 nadat Van Jaarsveld hul verlowing in Desember 2005 verbreek het. Van Jaarsveld en sy ma, Mary, was nie gister in die hof nie. Dat Bridges voorheen vier keer getroud was voordat hulle verloof geraak het, kon nie ’n rede daarstel vir die verbreking van die verlowing nie, want Van Jaarsveld was hiervan bewus toe hy die jawoord gevra het, het Erasmus gesê. Bridges se ma, mev. Leonie Bridges, het vroeër getuig sy het aan Van Jaarsveld alles oor haar dogter vertel toe hy haar kom vra het om met dié te trou, sodat hy nie agterna kon sê hy het nie van haar verlede geweet nie. Raulinga het gister gevra of Bridges sr. se “preek” vir Van Jaarsveld dié nie aan die dink gesit het nie en dat hy, met verloop van tyd ná die sluiting van die verlowing, besef het Bridges sr. was reg. Erasmus het hierop gesê dít is slegs bespiegeling. Erasmus het gesê toe Van Jaarsveld Bridges per SMS afgesê het met: “Ek is nie opgewonde nie. Ek kan nie met jou trou nie”, het hy sy laaste bietjie ordentlikheid by die venster uitgegooi. Hy het gesê Van Jaarsveld het Bridges gedreig as sy hom durf dagvaar, sal hy homself sekwestreer. Mev. Van Jaarsveld se ontevredenheid oor die voorgenome huwelik is kort-kort in die hofsaak genoem. Bridges het voor die einde van die verhouding in ’n e-pos aan mnr. Van Jaarsveld gesê “hulle het die duiwel op jou afgebid. Jy het toegelaat dat jou ma-hulle die kern van ons verhouding vernietig”. Raulinga het gesê mense is in ’n tweestryd tussen hul kultuur en die reg. Van mense word verwag om hul ouers te gehoorsaam en die reg sê weer iets anders. Erasmus het gesê Van Jaarsveld was 34 jaar oud ten tyde van die verlowing. “Êrens moet ’n mens op jou eie voete begin staan. Jy kan nie elke keer wanneer die skoen druk, onder jou ouers se vlerke inkruip nie.” Erasmus het gesê Van Jaarsveld is nie ’n “morele preutse” nie. Daar was ’n seksuele verhouding tussen die twee sedert April 2004. Van Jaarsveld was ’n gewillige party; hy was in die kollig en dit moes sy ego gestreel het. Seks voor die huwelik het nie die stigma van destyds nie. Destyds was ’n vrou ’n “slet” as sy seks voor die huwelik gehad het, maar ’n man was ’n “boytjie”, het Erasmus gesê. “Ons het verby dit beweeg.”
Hoendervel inderdaad…dis nogal ‘n mondvol (mmm, jammer, swak keuse van woorde). Ek sien natuurlik glad nie relevansie van die seks voor die huwelik verwysing nie maar nietemin, antie van Jaarsveld het net mooi niks van hierdie affêre gehou nie so met die duiwel-afgebiddery en so aan (en ons dink die plaaslike Afrika kulture en relegieë is evil) maar nouja, hoe sê William Congreve;“Hell hath no fury like a skoonma scorned”.
Filed under: Gedagtes

Iewers tussen een-vyf-en-twintig en agt-dertig op die negentiende Mei tweeduisend-en-agt het duskant sutherland die tienduisendste hit gekry…net mooi twee weke voor hierdie werf se eerste verjaardag…
Ek is glad nie ‘n “stats hoer”, soos onse Da Mario guitig na homself verwys, of die tipe wat knaend moet uitroep “dat ek gelees word nie”. Daarom is tienduisend vir my ‘n nederige miljoen, en elke leser wat hier tyd spandeer nie ‘n statistiek op my dashboard nie maar ‘n voorregtelike vriend.
Dankie mense! Nou vir 100 000…
Filed under: Goeters
…wens ek alle Moeders; oueres, nuweres asook voornemendes ’n wonderlike dag toe.

[...en wonder ek nederig of dit Heino of sy Mutter is wat op hierdie plaatomslag pryk...]
Filed under: Goeters
Smile ek toe anderdag amper so breed soos die Piekanienies waaroor ek vroeër geskryf het toe ek die volgende stukkie in die Griffel van die Volk raaklees:
“…Brussel. Drie inwoners van die Griekse eiland Lesbos het met ’n regsaak in die Atheense hooggeregshof begin om mense wêreldwyd te verhinder om die begrip lesbies vir homoseksuele vroue te gebruik. Lesbos is ’n eiland aan die Turkse kus wat egter aan Griekeland behoort. Dit was in die antieke tyd ook die tuiste van die vroulike digter Sappho, wie se geskrifte duidelike homoseksuele elemente bevat. Dit is die rede waarom die woord “lesbies” wêreldwyd vir homoseksuele vroue gebruik word. En dus wil die drie Lesbos-inwoners, oftewel Lesbiërs, van wie een man en twee vroue (almal heteroseksueel) is, hê dat die begrip slegs gebruik mag word om inwoners van hul eiland aan te dui. In die tydskrif O Davlos skryf hulle onder meer: “Ons is teen die willekeurige gebruik van die naam van ons tuiste vir mense wat eienaardig is. Hulle eien hulle die benaming ‘lesbies’ toe, en dit kan ons nie toelaat nie,” luidens ’n berig in die Vlaamse dagblad De Morgen. Die saak kom op 10 Junie in die hooggeregshof in Athene voor…”
Maskas nè, een van die dae gaan Pniel se mense dalk ook wapen opneem… ![]()
Nou goed, wat moet dan nou hier verander…die naam van die eiland of die benaming vir die dames? En swaai hierdie hofsaak na welke kant…wat sal dan alternatiewe benamings vir die eiland en/of die homoseksuele meisies dan wees. Enige idees…?
Filed under: Gedagtes
Proloog:
Nou goed, my hand het ek nog nooit aan intertekstuele blog gewaag nie en ek vermoed ek steek my kop hier in ‘n byenes.
‘n Inskrywing deur ‘n ou bekende, Roer het my nogal aan die dink gesit.
En ek kan nie anders as om dit hier te kom afmeet nie…daarom, eerlik maar met apologie aan haar:
Ek wonder of Mej. du Toit se dominee ook vir haar Sondag gepreek het oor emigrasie en dat dit beter is om trots Suid Afrikaans te wees. Ek wonder of kennisse van Me. Botha haar vertel het dat sy, onder omstandighede, haar seëninge kan tel omdat dit baie makilk anders kon wees. Ek wonder of Mnr. Groenewald se bure hom vertel het om meer positief te wees oor die land en sodoende perspektief op sy vrese te kry. Ek wonder of Mnr. Fourie se vrou hom probeer oortuig het om te emigreer uit vrees vir verkragting of vir die lewe van hul kinders en hul eie. Ek wonder of Mnr. Opperman se vrou geweier het om te emigreer, want sy sou dalk haar familie en vriende te veel mis. Ek wonder of sulke mense besef dat daar dalk hoop in hulle harte is.
Epiloog bygesê:
Ek wonder ook waneer ons perspektief gaan kry op ons land.
Ek wonder ook wanneer mense gaan ophou kla met die witbrood onder die arm.
Ek wonder ook of mense besef tot watter uiterstes honger, dors en koue jou dryf.
Ek wonder ook wanneer mense gaan ophou terughunker na ‘n “ou Suid-Afrika”.
Ek wonder ook of mense misdaadstatistieke lees en besef hoeveel buitelanders by misdaad betrokke is.
Ek wonder ook wanneer mense die spreekwoordelike”wat jy saai sal jy maai” gaan begin lewe.
Ek wonder ook wanneer vrees en haat oorskadu gaan word deur geloof en hoop.
Laastens wonder ek wanneer ons weer gaan leer glo. Onwrikbaar glo.











