duskant sutherland


Struikel-en-valrisiko’s 101
Maart 6, 2008, 3:45 nm
Filed under: Goeters

Die spesifieke Universiteit in Pretoria waar ek werksaam is, is nou-al berig vir hulle substansiële en ongelooflik deeglike interne kampuskorrespondensie. Ek praat nou van die kennisgewings, aanmanings en nuusbrokkies wat, nie daagliks nie maar al om die uur, aan alle personeel via e-pos gekommunikeer word. Wag laat ek gou tel…daar het vandag 11 items vanuit hierdie bron in my Inbus opgeëindig. Maar dis nie als sleg nie, soms sorg hierdie diens vir stof tot dieper nadenke. Soos die volgende juweel, en ek haal aan:

Struikel en valrisiko’s op kampus

Geagte kollegas
 Die grootste enkele oorsaak van beseringinsidente op ons kampusse is struikel- en valinsidente.  Dit is nou vir die derde jaar nommer een wat betref oorsake van beroepsbeserings. Gevolglik word u vriendelik versoek om die volgende voorkomende optrede in gedagte te hou wanneer u op kampusse of in geboue beweeg.

1. Wees bedag op die moontlikheid van ongelyk loopvlakke veral as u oor dienskanale en plaveisel beweeg.

 2. Probeer donker areas vermy waar moontlik. 

3. Moet nie op trappe hardloop nie.

 4. Wees versigtig waar vloere gepoleer of gewas word. Waarskuwingsborde ten opsigte van gladde vloere moet deur skoonmakers in opsigtelike plekke geplaas word.

 5. Moet nie artikels op so ‘n wyse dra dat u nie behoorlik kan sien waar u loop nie, veral nie wanneer van trappe gebruik gemaak word nie.

6. Wees veral versigtig wanneer dit reën om sondermeer by ‘n gebou in te stap sonder om seker te maak dat u skoensole droog is.

 7. In geval van gebou-ontruimingsoefeninge moet u asseblief nie hardloop nie, maar doelgerig na u naaste versamelarea loop.

Vriendelike groete, ADJUNKDIREKTEUR : FASILITEITEBESTUUR

Merkwaardig, inderdaad merkwaardig. Daar is nou vir jou merkwaardige insig. Ek moet sê veral punt 5 en 6 het vandag iets vir my kwynende moraal beteken…

larson.jpg