Filed under: Geite
…daar is dan ook die anderkant van die muntstuk. Lees ek nou gister die volgende ou brokkie in die Griffel van die Volk:
“Lebo M, mede-vervaardiger van The Lion King, het eergisteraand ’n herrie by die Naledi-teaterpryse ontketen toe hy geweier het om ’n toekenning in ontvangs te neem. Hy het beweer die Suid-Afrikaanse teaterbedryf is rassisties. Toe Lebo M op die verhoog gaan om die prys te ontvang, het hy gesê hy voel beledig daardeur aangesien geen ander swart akteur ’n prys gekry het nie. Hy het bygevoeg dat hy dit oorweeg om weer in ballingskap te gaan as dít is wat in Suid-Afrikaanse teater aan die gebeur is. Die gehoor, wat die internasionaal erkende akteur en dramaturg dr. John Kani ingesluit het, het tydens sy tirade begin “boe” en te kenne gegee dat hulle nié met hom saamstem nie. Hy het daarna die verhoog verlaat sonder om erkenning te gee aan Toerien, of enige van die akteurs in die produksie. Hy het ook die Naledi-trofees en wennerstjek op die vloer neergesit. Lebo M het ook gekla dat hy tydens die pryse heel agter moes sit, terwyl hy by die Oscars in die voorste ry gesit het. Dawn Lindberg, uitvoerende regisseur van dié pryse, het Lebo M se bewerings as onsin afgemaak: “Hy het ’n uur en ’n half laat opgedaag en was na ’n agterste sitplek geneem omdat die vertoning reeds begin het. Hy kon enige tyd vorentoe geskuif het.”
Ai, die rassekaart, die rassekaart. Ek dink baie van ons voel al oor die rassekaart soos Schalk Burger oor ‘n geelkaart…Soos nouweer met onse voorsanger Lebo…ek dink natuurlik die ou was nouweer suur omdat hy nie gepamperlang is nie en omdat hy tussen die gepeupel moes sit…Dat ‘n professionele man nou so ‘n temper-tantrum kan gooi en sy naam so gat maak. Sjoe…ballingskap? Dis ‘n duur prys wat ons gaan betaal omdat ons ‘n gelykheidsvegter tussen jan-alleman laat sit het, hoor! Wat dink ek hiervan? “Booooeeeeeeeee!!!!!!!”.

Filed under: Goeters

Engeland het een.
Nederland ook.
Amerika s’n is groot!
Nou het Suid-Afrika ook sy eie weergawe van die oorspronklike postsecret in die vorm van Heimlik, ‘n interaktiewe poskaartjoernaal waar jy jou grootste, lekkerste, hartseerste of sappigste brokkie geheim aan die wêreld bekend kan maak…in Afrikaans! Soos die webwerf inderdaad voorstel:
“Wees kreatief – spoeg en plak as dit moet sodat die begeertes van jou hart, die storieboek van jou verlede of die vuil onder jou vingernaels op ‘n poskaart gestalte kry…in Afrikaans! Stuur dan vir ons jou bydrae en ons sal dit hier plaas.”
Die konsep het tot stand gekom -en is gebaseer op die postsecret verskynsel in die VSA waar die Blog-fenomeen op ‘n nuwe (anonieme) wyse interaktief geword het. En dit was eenvoudig…maak ‘n poskaart, skandeer dit of pos dit na die webmeester wat dit dan publiseer, en voila! Die belangrikste “selling-point” was natuurlik die sterk “secret” suggestie en die gewone man en vrou op die straat het die geleentheid aangegryp om hulle diepste opkroppings aan die wêreld te vertoon. Naamloos maar daar waar miljoene dit sal sien.
En Suid-Afrika is nie anders nie…ook maar mense met dinge en geite. Ons het wel een ding wat vir ons tel: Afrikaans!
Die mooiste en mees-ekspressiewe taal op aarde…kreatief en visueel op papier!
So spring in, steel jou kind se Pritt…grawe jou Scrap Booking voorrade uit.
En laat jou hart gaan.