duskant sutherland


Jurie, Hes en die Geneefse Konvensie
Januarie 28, 2008, 11:05 vm
Filed under: Goeters

My oë is tranerig vanoggend. Jurie, tant Hessie (van die witperd faam)  en hulle skatlike kleindig, Hidrolize – of is dit nou Kroketten…skies Chrizette  is nou uiteindelik oppad. Ons volk is die afgelope weke ‘n paar gevoelige houe toegedien. Eers val die pilaar van verdienstelikheid aan die hand van sy lende (wel tegnies seker dan aan die hand van ‘n sekere Janine van der Vyfer – letterlik) en nou verlaat ons blouoog-minnesanger maar meer algemeen, die die gesig van Estee Lauder in Suid-Afrika, en diè se gesin, ons eersdaags. Dis ‘n hartseer dag, mense…Maar wag…laat ek na die Stem van die Volk oorskakel voor die emosie oorhand kry…

Jurie Els groet Suid-Afrika

Uit protes teen swak beplanning, swak dienslewering en misdaad…
Dit is die groot rede waarom Jurie Els, sy vrou, Hestrie, en hul dogtertjie, Chrizette (16 maande), hulle eersdaags vir ’n onbepaalde tyd in Nieu-Seeland gaan vestig…[ ]…“Ons probeer ’n stelling aan die regering maak om wakker te skrik, want hulle verloor baie talentvolle mense,” het Els vertel. “Ons het ’n groot ekonomiese inspuiting aan die land gelewer. Ek en Hes betaal miljoene rande se belasting.  Ek sien nie meer kans om vier uur deur slaggate tot by ’n vertoning te ry en dan by aankoms te moet hoor die krag is af nie.”

By die “totsiens-sê” konsert het hy ook skrams verwys na die sage om Steve Hofmeyr en Janine van der Vyver deur te sê: “Net ek en nog een sanger uit my generasie het oorgebly. Julle weet almal wie dit is. “Ek wil mooi vra: Oordeel die daad; nie die mens nie.”

’n Bejaarde vrou in die gehoor het iets gefluister. Els het dit gehoor en gevra sy moet dit oor die mikrofoon herhaal. “Ons gaan jou baie mis. Ons is baie lief vir jou,” het sy gesê. Net voor sy laaste liedjie, waaroor hy en “Hes lank saam gedink het”, het Els gesê: “As dit lekker is daar anderkant kom ons nie terug nie. Maar as hier weer krag is en die paaie is weer reg, dan kom ons dadelik terug.”

Ai…die Stem het darem maar net die regte die manier om ‘n ding so op die naam te noem…kyk byvoorbeeld nou na die diep emosionele verwysing na die ou tannie se stil-onseker woorde. Wat ‘n prag-konklusie op hierdie vernuftige stukkie sentiment-joernalistiek asook op dekades van sukses vir die sanger en die atleet. Maar nou dink ek sommer so hardop… Indien die Els’e mijoene in die staat se koffers ploeg in belasting, aanvaar ons dat die gesinnetjie nie juis noustrop trek nie…wat my nou onwillekeurig laat wonder waarom dit altyd die manne mense met die agt-nulle-bankbalanse is wat die hardste teem oor ons land en met die witbrood onder die arm kla?

So in my menslikheid bespeur ek ook ‘n tikkie argwaan in die “good luck vir Suid-Afrika wat noumaar sonder ons belastinggeld, talent en sprankel persoonlikhede moet sien-kom-klaar” sentiment.  Hierdie argwaan sluit natuurlik ook suutjies-poep-brêk opmerkings soos “hulle verloor baie talentvolle mense” en “net ek en nog een sanger uit my generasie het oorgebly” in…Watter talent? En allamagtag, watter generasie…die Jurie Els een? Sjoe.

Maar wat my die meeste “puzzle” is hoe Jurie dit reggekry het om Nieu-Seelandse burgerskap te bekom. Ek meen die Geneefse Konvensie praat baie ernstig teen geheime wapens en wapens van massavernietiging. Al wat ek kan dink is dat dit ‘n merkwaardige Resolusie moes gekos het om Jurie, sonder sy stem en sonder al die Vat-Vat Volumes, in hierdie hoogs-gekultiveerde land toe te laat…

juriehes2.jpg

UPDATE: Dit wil vir my voorkom of die Els’e se skielike vertrek dalk iets te doen kan hê met onse minnesanger se gewete eerder as die verskriklike Suid-Afrikaanse lot… http://duskant.wordpress.com/2008/02/11/as-bliksem-jou-geoorloof-is/ .