Filed under: Kiekies

Gebeur daar toe op oukersdag ‘n ding hier op die plaas in die grote Karoo wat my summier aan ‘n Jan Spies vertelling laat dink…van twee Boere-Jode wat so van plaas tot plaas handel gedryf het maar eendag in ‘n onderonsie betrokke geraak het oor die klandisie van ‘n seker boer. Nou, die boer was ‘n vreeslik goedgelowige man wat, hoe verregaande ookal die storie, altyd maarnet sou antwoord met die woorde: “Dis gebeurlik ja…”. Die twee handelaars kom toe ooreen dat die boer se klandisie aan die een sal gaan wat die omie se goedgelowigheid met ‘n liegstorie kan knak. Wel, om ‘n lang storie kort te maak, die een Jood wen toe met sy storie van hoe hy eendag met sy wa in modder vasgesit het en toe ‘n klomp ou uitgedroogde gemsbokrieme aanmekaar vasgebind het om die wa uit te trek. Toe hy vir die oom sê dat die getrekkery die rieme so ge-koeksuster het dat daar later straaltjies bloed uit die jare-oue vel sou tap, haak die oom af “dit lieg jy mos nou…”.
Wel, ek lieg nie as ek sê dat ek ‘n wit krismis hier in die Karoo gehad het nie. En ek lieg ooknie as ek vertel dat ek in die Karoo met ‘n opblaasboot en paddle-ski aan watersport deelgeneem het hierdie vakansieseisoen nie…
Maar laat ek vertel (en hoe dan beter, as met ‘n paar kiekies…)

Dit het alles begin met skrikwekkende kolkende donker wolke en ‘n sterk wind. Ons dink nog dis snaaks dat dit in die Karoo gaan kom reën toe smaak dit ons ‘n tornado is oppad.

En toe breek al die hel los…en dit reën, en dit sous, en dit hael.

Sommer gou is die werf onder water en ys, maar dis het einde niet…Later is die huis se dak spierwit en swig onder die gewig van die yslaag.

Toe die storm na sowat ‘n driekwartuur bedaar lê die werf en die veld onder ‘n dik yslaag.

Die droë rivierlopie naby die huis het in ‘n oogwink ‘n ruiende massa water, 3 meter diep en 30 meter wyd geword. Daar is min goed so skrikwekkend soos hierdie klas water in ‘n droë plek soos die Karoo!

In die veld het die hael op plekke tot 70cm diep gelê en die vlaktes in ‘n spierwit sprokieswêreld omgetower.

Maar die verwoesting was vinnig sigbaar. Grensdrade, hekke en paaie het weggespoel, huise oorstroom. Oral in die veld het skape, steenbokke, hase en dassies doodgelê. Waardevolle weiding vir die skape is tot niet en die boere sê die skade aan die natuur sal 3 jaar neem om te herstel.

In die skaapkraal het die hael, so ‘n meter diep, die klipmure omgestoot en langer as ‘n week geneem om weg te smelt.

Rondom ons het waterlopies in diep riviere verander en diep plate pak-ys was die veld vol.

En toe kom die son uit en lawe die aarde…
Dis gebeurlik, mense…dis wragtag gebeurlik!
Filed under: Gedagtes

Oujaarsaand 2007
Waar 2007 in die geharwar van Pretoria tussen duisende mede-studente gebore is, het 2008 stil-stil saam met Orion se gordel en die suider-ster van Alpha Centauri aan my voete kom lê.
Wonderbaar…
Aan elke besoeker, vriend en dromer ‘n Voorspoedige Nuwejaar.
Wederom!